24 Maart 2002

Palmsondag/Groot Lydensweek

LITURGIESE VOORSTEL (1)

Fokusteks: Matteus 27:11-54.

Ander tekste: Jesaja 50:4-9; Psalm 31:9-16; Filippense 2:5-11.

Vandag roep die kerk die openingsgebeurtenis van die Heilige Week in herinnering – die triomfantlike intog van

Christus in Jerusalem.

In veral die Katolieke en Anglikaanse tradisies word daar op hierdie Sondag kruisies wat uit palmblare gevleg is by

die deure aan die lidmate uitgedeel. Die lidmate bewaar dan hierdie kruisies in hulle Bybels tot die aanvang van

Lydenstyd die volgende jaar met Aswoensdag, wanneer die kruisies verbrand word. Daar kan by hierdie tradisie

aangesluit word, in watter geval dit goed sal wees as die gemeentekinders vooraf betrek word by die vleg van die

kruisies.

Andersins kan die gemeente (of dié wat wil) met palmtakke (of ander takke) by die kerkdeure bymekaarkom (of voor

die aanvang van die diens hiervoor buitentoe gaan). Wanneer hulle dan inkom met die wuiwende palmtakke sing

die gemeente ’n gepaste lofsang waarin Jesus as Koning geloof word. Palmtakke kan ook gebruik word om die kerk

mee te versier. In ander kerktradisies is die optog met palmtakke heelwat verder weg van die kerk, sodat daar vooraf

gereël word om op ’n geskikte plek (weg van die kerk) en tyd voor die erediens bymekaar te kom. Maak veral seker

dat die kinders aan die optog deelneem.

Indien daar by hierdie tradisie aangesluit word, sal dit nodig wees om, behalwe vir die tekskeuse van die dag (Matt

27:11-54) ook die addisionele Jaar A-lesing vir Palmsondag uit die Matteusevangelie te lees, naamlik Matteus 21:1-

11.

Die twee Matteustekste bied die ideale geleentheid om die kontras tussen lippediens en die navolging van ’n

lydende Christus uit te beeld. Dis immers dieselfde mense wat "Loof Hom!" (Matt 21:9) én "Kruisig hom!" (Matt

27:22, 23) skreeu. Dit is ’n redelik lang Skriflesing en daar moet genoeg tyd hiervoor in die diens ingeruim word (dalk

met stilte of gepaste sang tussenin), sodat die lyding van die Here weer in herinnering geroep kan word.

Fokusteks: Matteus 26:14-27:66 (korter vorm: Matteus 27:11-56).

Ander tekste: Matteus 21:1-11; Jesaja 50:4-9a; Psalm 31:16-17; Filippense 2:5-11.

INLEIDING

Op Palmsondag word die intog van Jesus in Jerusalem gevier. Dit is egter ook die begin van die Groot Lydensweek

en moet derhalwe nie uitsluitlik as ’n triomfantlike geleentheid gevier word nie. Die intog wat herdenk word, is dié

van die Koning wat gekom het om te ly en te sterf. In die liturgiese voorstel wat hier aangebied word, word daar in

die eerste deel van die diens op die intog gefokus, terwyl die prosessie van die gemeente die oorgang bewerkstellig

na die tweede deel van die diens waar daar op die lydensverhaal gefokus word.

Die liturgiese kleur vir Palmsondag is dieselfde pers as vir die res van Lydenstyd, of ’n dieprooi wat dui op die bloed

van Christus wat op Goeie Vrydag gestort is. In baie kerke is dit die gebruik om kruisies wat van palmblare gevleg

is aan lidmate uit te deel (vind by die plaaslike Anglikaanse of Katolieke Kerk uit hoe dié kruisies gevleg word). Die

binnekant van die kerk moet so min moontlik versier word. Konsentreer op simbole van Christus se lyding, soos die

kruis en die doringkroon. Verkieslik geen blomme nie.

LITURGIESE VOORSTEL (2)

In sommige gemeenskappe is dit die gebruik om op Palmsondag ’n optog met palmtakke deur die strate te hou. Dit

kan ’n goeie geleentheid wees vir ekumeniese samewerking tussen nabygeleë gemeentes van verskillende denominasies.

GOD VERGADER ONS VOOR HOM

Die gemeente kom voor die aanvang van die erediens buite die kerkgebou byeen waar daar palmtakke aan almal

of aan ’n gedeelte van die gemeente (bv die kinders) uitgedeel word. Die voorganger verduidelik kortliks die doel

van die dag se feesviering deur byvoorbeeld te sê: "Ons het vandag saamgekom om die begin van Jesus se Groot

Lydensweek te gedenk. Ons dink vandag in besonder aan sy intog in Jerusalem toe Hy die stad binnegekom het

om sy verlossingswerk te voltooi: om te ly, te sterf en op te staan uit die dood."

Votum

Voorganger: Jubel en juig, want ons Koning kom na ons toe.

Hy is nederig en Hy ry op ’n donkie, op die vul van ’n pakdier.

Gemeente: Hosanna in die hoogste!

Voorganger: Prys die Seun van Dawid!

Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!

Gemeente: Prys Hom in die hoogste hemel!

Voorganger: Laat ons na Hom toe gaan met lof,

laat ons Hom toejuig met lofgesange!

Lofsang

Psalm 118:1, 12, 13 (ou beryming of parallelstrofes in die nuwe Liedboek).

Skriflesing

Matteus 21:1-11.

Die gemeente beweeg hierna in prosessie in die kerkgebou in terwyl ’n lied (bv Ps 100:1-4/NSG 1) gesing word.

Die palmtakke kan voor in die liturgiese ruimte en/of in die paadjies neergelê word.

DIENS VAN DIE WOORD

Gebed

Skriflesing uit die Ou Testament

Jesaja 50:4-9a.

Psalmrespons

Psalm 31:10-17 (die parallelverse van die psalmomdigting in die nuwe Liedboek kan deur die gemeente of die koor

gesing word).

Skriflesing uit die Nuwe-Testamentiese briewe

Filippense 5:2-11.

Sang

’n Geskikte Lydenslied, byvoorbeeld Gesang 131/NSG 107.

Skriflesing uit die Evangelies

Matteus 26:14-27:66 (of Matt 27:11-54). Die Skriflesing kan soos volg verdeel en afgewissel word met gemeenteen/

of koorsang: Matteus 26:14-29; 26:30-56; 26:57-75; 27:1-23; 27:24-50; 27:51-66. Daar word aanbeveel dat van

verskillende stemme gebruik gemaak word vir die voorlesing. As alternatief kan ’n toonsetting van die teks van die

lydensverhaal deur die koor gesing word.

Prediking

Dit kan kort wees om nie af te doen aan die krag van die lydensverhaal self nie.

Respons op die Woorddiens

Geloofsbelydenis

Gemeente: Ek glo in Jesus Christus, die eniggebore Seun van God die Vader,

Voorganger: Hy wat in die gestalte van God was, maar Homself verneder het deur die gestalte van ’n slaaf aan

te neem en aan mense gelyk te word,

Gemeente: wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is.

Voorganger: Hy het Homself verneder en was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.

Gemeente: Hy het op die derde dag weer opgestaan uit die dood, opgevaar na die hemel en Hy sit aan die

regterhand van God die almagtige Vader.

Voorganger: God het Hom tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is.

Gemeente: In die Naam van Jesus sal elkeen wat in die hemel/en op die aarde/en onder die aarde is,/die knie

buig,/en elke tong sal erken: Jesus Christus is die Here!

Voorganger: Tot eer van God die Vader.

Gemeente: Amen (verkieslik gesing).

Gebed

Offergawes

UITSENDING

Slotsang

’n Gepaste lied, byvoorbeeld Gesang 186:2/NSG 156.

Seën

Aan God die dank! Hy voer ons saam in sy triomftog, omdat ons een is met Christus. Amen.

Teks

Die teks is te lank. Daar gebeur net te veel in hierdie klomp verse om enigsins in een preek daaraan reg te laat

geskied. Om so in die algemeen oor die lyding van Christus te preek deug nie. Daarom is ’n keuse nodig wat die

teksinhoud tot ’n hanteerbare tema beperk.

Ek het gekies om op die verhoor van Christus te konsentreer. Aanvanklik is hierdie keuse beïnvloed deur die feit dat

ek nog altyd geboei is deur Pilatus se rol in hierdie gebeure. Maar soos die teks in my hart gegroei het, het ek al

hoe meer bewus geword van ’n groter toneel waarin Pilatus net maar een van die rolspelers was. Al kan ’n mens

nie oor die lyding van Christus tydens sy verhoor preek sonder om sy regter, Pilatus, by name te noem en ’n bietjie

oor hom na te dink nie, bestaan die gevaar dat ons oor Pilatus kan preek ánders as wat Matteus oor hom praat.

Want wat voor ons lê, is ’n teks uit die boek Matteus.

Dié boek het nie in ’n lugleegte ontstaan nie. Die skrywer (waarskynlik ’n Christen-Jood – die kerklike tradisie sê dit

was Matteus) het ’n pastorale doel gehad. ’n Mens kan dus nie net vra: Wat staan in die teks? nie. Jy moet ook vra:

Hoekom staan dit daar? Sonder ’n antwoord op die tweede vraag sal jy die eerste een maar sleg en hoogstens

gedeeltelik verstaan.

Wanneer ons sê dat die boek ’n pastorale doel gehad het, veronderstel ons daarmee ’n werklike gemeente in die

omgewing van 75 nC. Wie hulle was en waar hulle gebly het, weet ons nie. Uit ’n noukeurige lees van die boek en uit

agtergrondkennis oor die tyd en wêreld, kan ons aflei dat die gemeente ’n groter wordende heiden-Christenkomponent

gehad het. Waarskynlik het die gevaar van antinomianisme ook as gevolg daarvan toenemend kop begin

uitsteek. En in die gemeente – so lei Combrink af – het al hoe meer van hulle begin verval in materialisme,

sekularisme, onderlinge liefdeloosheid, geestelike laksheid, wetteloosheid en afvalligheid. Dit het die skrywer

bekommer. Daarom val die klem in hierdie boek minder op die genade waardeur ons gered word (soos by Paulus) as

op die oorvloediger geregtigheid wat in geredde mense se lewe sigbaar moet wees (soos by Jakobus). Die koninkryk

van die hemel het immers sy eie reëls – moeiliker reëls as dié wat die Fariseërs so noukeurig nagekom het.

PREEKSTUDIE - MATTEUS 27:11-54

Jesus se opdrag aan die einde van Matteus (28:20): "Leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het," sal

dus deurentyd ons lees van hierdie teks moet begelei.

Eksegetiese opmerkings

Eksegeties bied hierdie gedeelte geen probleme nie. Die woorde en sinne vertaal maklik en dit is nie moeilik om die

lyn van die verhaal te volg nie. Kortliks opgesom, verhaal Matteus die gebeure se verloop só:

• Pilatus en Jesus

1. Pilatus se vraag (v 11a-c);

2. Jesus se antwoord (v 11d);

3. Jesus se swye voor sy beskuldigers (v 12);

4. Pilatus se tweede vraag aan Jesus (v 13), en

5. Jesus se voortgesette swye (v 14).

• Pilatus en die volk/aanklaers?

1. Inligting: die gebruik om ’n gevangene vry te laat (vv 15-16);

2. Pilatus se eerste vraag aan die skare (vv 17-18);

3. Procla probeer Pilatus oorreed om Jesus vry te laat (v 19);

4. Die geestelike leiers probeer die volk oorreed om Jesus te laat doodmaak (v 20);

5. Pilatus se tweede vraag aan die skare (v 21);

hulle kies Barabbas;

6. Pilatus se derde vraag aan die skare (v 22a);

hulle roep: Laat hom gekruisig word (vv 22b-23).

• Wie se skuld is die dood van die Onskuldige?

1. Pilatus spreek homself vry, maar glo heimlik dat hy skuldig is (v 24);

2. Die volk aanvaar skuld, maar glo heimlik dat hulle onskuldig is (v 25), en

3. Jesus word oorgelewer om gekruisig te word.

Konteks

Die drama wat hom in hierdie verse voor ons oë afspeel, is nie net gelaai met paradokse nie, maar ook met ironie.

Sowel paradoks as ironie het ’n manier om die vyeblare van ons lyf te stroop. Dít gebeur veral hier waar die "skuld"-

vraag hom onontwykbaar aan ons opdwing omdat ons as "toeskouers" van hierdie dramatiese gebeure by ’n hofsitting

betrek word.

Normaalweg is dit die aangeklaagde se skuld wat in die hof ter sprake is. Niemand verwag ’n uitspraak oor die regter

of die aanklaer se skuld nie. In hierdie hofsaak weet Matteus se lesers by voorbaat dat die aangeklaagde geheel

en al onskuldig is. Die regter het maar ’n minuut of twee nodig om tot dieselfde konklusie te kom. Jesus se verhoor

eindig dus amper so gou as wat dit begin het. Daarna swaai die gebeure subtiel om en begin die regter en die aanklaers

hulleself verhoor. Húlle word onopsigtelik gedwing om oor hulle eie skuld uitspraak te lewer – dít is die groot

ironie van hierdie gedeelte. Dié ironie word verder verhoog deur die volgehoue swye van Christus se kant. Toe Hy

eenmaal erken het dat Hy koning is, het Hy immers ook by implikasie daarmee gesê dat Hy die finale regter is. Al

erken nóg Pilatus nóg die Jode hierdie aanspraak van Jesus bewustelik, begin hulle onmiddellik spartel met die

vraag na hulle eie skuld. Dit is asof hulle voor die Swygsame Regverdige/Regter onafwendbaar in ’n innerlike

tweestryd beland. Hulle word deur hulle gedagtes aangekla of vrygespreek (Rom 2:15). Dat dít ’n belangrike aspek

van hierdie teks is, moet ons sommer nou reeds raaksien. Barth het gesê dat die res van die teologie juis hiervan

afhang, dat dit die Regter is wat in ons plek tereggestel word (KD IV 1, p 100). Maar dat dit nie ál is wat die teks vir

ons te sê het nie, moet ons ook weet. Daar is ook nog die paradokse waarmee ons gekonfronteer word.

Die eerste groot paradoks van dié stukkie drama is dat die enigste "slegte" persoon, die berugte moordenaar wat

reeds skuldig bevind en gevonnis is – Barabbas – ook as die enigste werklik vrygespreekte mens hier wegstap.

Terwyl die "goeie" mense in hierdie verhaal die gevangenes van hulle eie skuld word. Pilatus probeer baie hard om

homself te verontskuldig – maar sy vryspraak van homself oortuig ons as toeskouers glad nie. Dit is immers

glashelder dat hy ten spyte van sy handewassery so skuldig voel dat hy iets kan oorkom. Hy het mos reeds erken

dat Jesus onskuldig is. Om ’n onskuldige, weerlose mens sommer so vir die wolwe te gooi moet selfs ’n mens soos

Pilatus raak.

Die Jode, daarenteen, se vrolike vrymoedigheid om Jesus se bloed oor hulle en hulle kinders te laat kom, is alles

behalwe ’n egte skuldaanvaarding. Dit kom tog ooglopend uit hulle geestelike leiers se sekerheid dat Jesus God

gelaster het en uit hulle oortuiging dat dit eintlik sy wil is dat hierdie mens wat sy Naam so misbruik "nie ongestraf"

sal bly nie. Die paradoks: soos Pilatus homself vryspreek al weet hy dat hy skuldig is, so aanvaar die Jode skuld al

weet hulle dat hulle onskuldig is.

Die Good News Bible het Prediker 7:29 só vertaal: This is all that I have learnt: God made us plain and simple, but

we have made ourselves very complicated. As die Regter nie in ons plek veroordeel en tereggestel is nie, was dit

ikabod met die hele boel van ons. Wanneer ’n mens hierdie ingewikkelde prentjie van menswees diep genoeg bedink,

kom jy voor ’n ongemaklikheid met jouself te staan. Want dan begin jy daarmee rekening hou dat jy self al,

waarskynlik juis in jou vroomste oomblikke, lynreg teen God se wil in gehandel het. Voor jy te gou jou hande in

onskuld was, selfs al gebruik jy Jesus se bloed daarvoor, moet jy eers die gesig van jou eie skuld toelaat om ernstig

na jou terug te kyk uit die spieël van hierdie teks – en moenie soos die kyker in Jakobus 1:22-26 te gou vergeet wat

jy gesien het nie.

Dat Jakobus hier ter sprake kom, is ook weer nie toevallig nie. Daar is reeds na die "merkwaardige ooreenkomste

tussen die Jakobusbrief en die Matteusevangelie" (Combrink) verwys. Op hierdie punt moet ons egter ’n bietjie

langer daarby stilstaan. Met die preek van enige teks uit Matteus sal ons die volgende woorde van Combrink baie

goed moet onthou:

"Met ’n duidelike pastorale bewoënheid (sic) rig Matteus sy Evangelie aan mense wie se eerste liefde verflou het

en roep hy hulle op tot ’n terugkeer na Jesus. Jakobus se nadruk op geloof wat in dade tot uiting moet kom, is alom

bekend.

"Uit Matteus is dit egter duidelik dat Jesus verwag dat die wil van God, die geregtigheid van die koninkryk, vervul,

gedoen moet word (5:20, 48; 6:33). Die bergrede word afgesluit met ’n skerp waarskuwing teen woorde alleen (7:21)

sonder die doen van God se wil en die dra (doen!) van vrugte. Die verskil tussen ware en valse profete, goeie en

slegte bome, ’n huis op die rots en ’n huis op die sand is alleen die doen van die wil van God en die woorde van

Jesus (7: 21, 24, 26).

"Hierdie beklemtoning loop soos ’n goue draad dwarsdeur hierdie Evangelie. Vergelyk Jesus se veroordeling van

die Fariseërs in 3:8-10 as bome wat nie vrugte dra nie, asook 15:7-9; 23:2v. Dit is egter steeds ’n oordeel wat vir

elke hoorder van die Evangelie wat nié doen nie, wag. Dit blyk onder meer ook uit 21:28-32 waar dade gevra word

en in 21:43 waar die koninkryk van God gegee word aan ’n volk wat vrugte lewer (poioûnti toùs karpoùs). En hulle

wat die wil van die Vader in die hemel doen, geld as broers en susters van Jesus (12:49v). Hierdie beklemtoning

het tot gevolg dat die doen van die geregtigheid sodoende tot een van die mees wesenlike kenmerke van die

dissipels in die Matteusevangelie word." Tot sover Combrink.

Ons mag dus nie ’n teks uit Matteus gebruik om net oor die indikatief van die genade ("die Regter is vir ons veroordeel

en tereggestel") te praat nie. Want die hele boek is bedoel vir mense wat rééds uit genade gered is, maar nie

die vrugte dra wat by die bekering pas nie. Die skrywer se bedoeling is waarskynlik dat ook die verhaal van Jesus

se verhoor moet lei tot selfondersoek by ons – ’n selfondersoek wat moet uitloop op dade van oorvloediger

geregtigheid.

Oorvloediger geregtigheid is geregtigheid wat oorvloediger is as dié van die skrifgeleerdes en die Fariseërs. Hulle

het die eintlike eis van die wet – barmhartigheid – nagelaat terwyl hulle hulle met allerlei streng reëls en regulasies

besig gehou het (23:23; vgl 5:44, 48). In hierdie geval – waar hulle Jesus se kruisiging voor oë het – het hulle God

se eer probeer beskerm; maar juis omdat daar geen barmhartigheid in hulle gehoorsaamheid was nie, het hulle

presies die teenoorgestelde reggekry. Want sonder dat hulle besef het wat hulle doen (Luk 23:34), het hulle vir Hom

aan ’n vloekhout, naak en in skande, laat sterf. Telkens wanneer die barmhartigheid ontbreek in ons vroomste

veroordeling van dié wat ons as die onbelangrikstes ag, haal ons oor onsself die paradoks van God se eer wat met

ons beskerming tot sy skandpaal word, en van sy reddende bloed wat deur ons geregtigheid vir ons tot ’n oordeel

word (Matt 25:40, 45).

Die verdere ironie van die geskiedenis is dat Christene deur die eeue heen die Jode vervolg en vernietig het (kyk

na die Griekse teks by 27:20 – ajpolevswsin!). En ons het dit gedoen omdat ons geglo het dat die Jode dit verdien:

"Hulle het Christus mos laat kruisig." So het ons as Christene met ons onbarmhartigheid presies net so gesondig

soos die Joodse leiers destyds. Partykeer is die ergste ding wat met enige mens kan gebeur dat hy of sy in die

hande van "goeie" mense val.

Dat ons nie regtig oor hierdie gedeelte kan preek sonder om ook vir die gemeente iets oor die Jode en hulle skuld

aan Jesus se dood te sê nie, staan vas. Want daar is vandag steeds mense by wie die misverstand bestaan dat die

Jode alles wat deur die eeue met hulle gebeur het, verdien het. Wat dit betref, gee ek graag hier onder ’n redelik

volledige aanhaling van Hagner se uiteensetting in die Word-kommentaarreeks. Hy skryf:

"... there can be no mistaking the fact that Matthew portrays the Jews in an exceptionally bad light. The words

recorded in v 25, ‘his blood be upon us and upon our children,’ to some extent also reflect the hostility between

Matthew’s church and the synagogue that characterized the last half of the first century. That hostility, I have argued

(see Hagner, Matthew 1-13, lxxi-lxxiii), was between Jews, those who had accepted Jesus as their Messiah and

those who had not. That there would be especially strong feelings in the first generation of disagreement is

understandable. This particular verse, sad to say, has been used to justify ‘Christian’ persecution of the Jews down

through the centuries. Regarding Jesus as the incarnation of God, Christians of subsequent generations found it

easy to think of Jews as guilty of decide. It is as shocking as it is true that anti-Semitism accordingly became a

Christian virtue, indeed, a Christian duty. After all, had not the Jews all but wished revenge upon themselves in the

words they spoke to Pilate? We may only hope and pray in this post-Holocaust era that Christians no longer need

to be told how unthinkable such a conclusion is and what a tragic abuse of v25 it is to use this statement in support

of anti-Semitism. The salvation enjoyed by gentile Christians is in reality the gift of the Jewish people by whom it

has come, as the Fourth Evangelist puts it (John 4:22), and with that Matthew would have no reason to disagree (cf

1:1). It is right therefore for Christians to honor the Jews, for the light that has dawned in Christ is also meant to be

glory to God’s people Israel (Luke 2:32; and again Matthew would not disagree). As for the responsibility for the

death of Jesus, theologically there is only one possible answer: it is sin, the universal malady of all human beings,

that drives Jesus to the cross. The crucifixion is in this sense a piece of the autobiography of every man and woman

ever to walk this earth. It is ‘I’ who am guilty of crucifying Jesus."

Ons sal eweneens nie oor hierdie gedeelte kan preek sonder om die rol van Pilatus vlugtig onder die loep te neem

nie. Behalwe vir Maria, is hy immers die enigste ander mens wat in die Apostolicum genoem word. Sondag ná

Sondag word hy in baie tale dwarsoor die wêreld heen onthou as die een onder wie Jesus gely het. Dit is wat Procla,

Pilatus se vrou, in haar nagmerrie beleef het. Altans, so het die skryfster Dorothy Sayers in haar boek The man who

would be King Procla se droom vir haar lesers voorgestel. Procla hoor hierdie refrein en laat weet vir Pilatus: Ek het

veel gely ... Maar dit is die fiksie oor Pilatus. Wat is die feite?

Pilatus was die Roomse Prefek van Judea. Hy het diens aanvaar in die jaar 26 nC en sy pos tien jaar lank beklee.

Min wetende dat dít die beslissendste paar jaar in die geskiedenis van die mensdom sou wees en dat hy ex officio

in die sentrum sou wees van dié gebeure wat die geskiedenis radikaal sou verander.

Van sy persoonlike lewe weet ons nie veel nie. Buiten dít wat die Bybel oor hom skryf, is daar hoofsaaklik net die

twee Joodse geskiedskrywers Flavius Josephus en Philo wat iets meer oor Pilatus vertel. En hulle het niks van hom

gehou nie. Ons moet dus rekening hou daarmee dat hulle hom dalk in donkerder kleure geskilder het as wat regtig

nodig was. Hy het immers besonder lank daarin geslaag om sy base gelukkig te hou. Tien jaar in so ’n pos sonder

om in die pad gesteek te word, was blykbaar nie ’n geringe prestasie nie.

Maar dat die Jode hom nie kon veel nie, is ’n feit. Ons kan hulle nie te erg kwalik neem daaroor nie. Hy’t immers ’n

moedswillige (dalk domastrante) streep gehad. Dít het met die intrapslag duidelik geword. Hy het sy soldate toegelaat

om hulle vaandels met ’n afbeelding van die keiser daarop Jerusalem binne te bring. Dit was mos nou moeilikheid

soek! En hy het dit geweet. Daarom het hy dit in die nag laat doen. Toe die Jode die volgende oggend wakker word,

moes hulle hierdie gruwel aanskou. Maar Pilatus het sleg tweede gekom. Want die Jode het en masse met ’n taktiek

van niegewelddadige verset gekom. Toe die soldate dreigend swaard in die hand nader staan, het die opstandelinge

op die grond gaan lê en hulle nekke ontbloot. "Kom, sny ons dan maar keel af, as jy dan nou wil," was die boodskap.

Selfs Pilatus het nie daarvoor kans gesien nie en sy soldate beveel om die vaandels uit die stad te neem. Al het hy

die Jode ’n keer of wat daarna met geweld op hulle baadjie gespeel, het hy homself waarskynlik kort-kort daaraan

herinner om hulle nie weer onnodig tot ’n opstand uit te lok nie. ’n Mens soek nie moeilikheid as jy nie honderd persent

seker is van ’n oorwinning nie. En jy stamp jou ook mos nie sommer twee maal teen dieselfde klip nie.

Dié gebeure moes vlak in sy gedagtes gesit het toe die oproerige klomp met Jesus by hom aangekom het. In

Matteus se weergawe van Jesus se verhoor voor Pilatus kom iets daarvan uit die ink. Die Boodskap vertolk dié

gedeelte so: "Pilatus het agtergekom dat hy dit nie gaan regkry om Jesus los te laat nie. Die mense het net al hoe

rumoeriger geword. Hy het besef dat dit ’n oproer kon veroorsaak."

Dit was nogal ’n onbenydenswaardige posisie waarin Pilatus hom bevind het. Aan die een kant maak die teks dit vir

ons duidelik dat hy ’n opstand voor sy oë kon sien uitbroei as hy nie versigtig was nie. Hy sou dit kon onderdruk –

maar teen watter prys? Moet een man dan nie opgeoffer word om die lewens van baie ander te spaar nie?

Aan die ander kant, dít maak die teks ook vir ons duidelik, was Pilatus in sy hart van Jesus se onskuld oortuig. Boonop

was daar nog die nagmerrie wat Procla, sy vrou, gehad het. Wat maak ’n mens wanneer jy iemand soos Jesus

ontmoet ("Ek vind geen skuld in hierdie man nie") en jy word moreel gedwing om Hom ’n paar minute later tot die

dood te veroordeel? Jy was dan maar jou hande in onskuld. Maar, ons het reeds vir onsself uitgemaak dat dít nie

werk nie.

In die etiek is die hele kwessie rakende die "botsing van pligte" ’n bekende problematiek. Dit kan oor ernstige sake

gaan, soos wanneer daar gekies moet word tussen die lewe van ’n ma en haar ongebore kind. Maar dit kan ook

gaan oor sake soos ’n vrou wat trots haar nuwe kapsel vir jou wys. As jy eerlik wil wees (jou plig!), moet jy sê haar

hare lyk aaklig. Maar as jy wil liefhê (jou plig!), kan jy haar ooglopende vreugde oor hoe sy vir haarself lyk nie demp

nie. Dan lieg jy maar wit. "Dit pas jou!" sê jy. Maar al was jy jou hande ook tot hulle bloei in onskuld, die vlekke kry

jy nie af nie. Wanneer jy oor jouself dink, weet jy dat ook jy op jou beste maar ’n leuenaar is. Daarom moet ons maar

nie te gou en te hard oor Pilatus oordeel nie. Vir ons is dit duidelik dat hy die verkeerde keuse gemaak het. Maar

vir hom was dit waarskynlik in daardie stadium nie heeltemal so eenvoudig nie. Hy het mos nie die voordeel van

agternakennis gehad nie.

As ons elke Sondag met die opsê van die geloofsbelydenis opnuut van die splinter in Pilatus se oog bewus word

sonder om ’n slag in sy skoene te staan, sal ons nooit die diepte kan peil van ons eie menslike ellende en die skuld

oor die keuses wat ons teen wil en dank verkeerd maak nie. Ons sal ook nooit die genade van die kruis tot volle

vrede oor ons hart kan voel spoel nie.

Aangrypend mooi het Dirkie Smit onlangs in die gemeente Welgelegen op Stellenbosch, Kaap oor die lyding van

Christus onder Pilatus gepreek (die teks hiervan is ongelukkig nêrens gepubliseer nie – hierdie aanhaling kom uit

’n transkripsie van die preek wat by die kerk uitgedeel is):

"Hy is gekruisig onder Pontius Pilatus, bely Nicea, maar saamgetrek in dié naam is almal wat aandadig was aan sy

kruisiging. Die Joodse volk, ja, met hulle leiers, godsdienstig en kultureel; die massa, die skare, die openbare wil en

mening; ja, die heidennasies en hulle leiers, die nie-Joodse ongelowiges; die Romeinse beskawing en ryk, kennis

en kultuur, waarheidsoeke en regsisteem; ja, die ganse mensheid; julle, sê Petrus, ons. Ons, tot vandag toe, ons

almal. Sy eie mense, sou Johannes met verwondering en droefheid sê. Omdat ons die duisternis liewer gehad het

as die Lig (Joh 1:1-11; 3:16-21).

"Deur die eeue het mense dikwels gewonder oor die vraag waarom Pontius Pilatus by name vermeld word in die

vroeg-Christelike geloofsbelydenisse. Daar is waarskynlik verskillende redes voor. Maar dít is ’n wesenlike deel

daarvan. Hy staan daar namens ons. In ons plek. Hy verteenwoordig ons almal in die belydenis van die kerk, in die

verhaal van Jesus wat sit aan die regterhand van die Vader. Sy naam staan daar as ewige herinnering aan ons

aandeel in die storie van hierdie Jesus. Dat dit ons skuld is dat Hy gekruisig is.

"Maar ons kan dit ook maklik misverstaan. Pontius Pilatus staan nie daar as herinnering aan ons slegste oomblikke

nie, maar aan ons beste. Nie aan ons boosheid nie, maar aan ons prestasies, ons suksesse, ons hoogste strewes,

ons roem, ons grootsheid.

"Dit is die merkwaardige.

"Pontius Pilatus – daarvoor moet ’n mens die Evangelies aandagtig gaan lees én die aangrypende weergawes van

die verhoor van Jesus soos byvoorbeeld by Johannes – is die verteenwoordiger van die Romeinse Ryk en

beskawing, menslik gesproke ’n hoogtepunt van menslike ontwikkeling en trots. Hy is ’n regter van die Romeinse

regsisteem, wat ons tot vandag nog waardeer en eerbiedig. Hy is ’n simbool van die kulturele hoogbloei wat ons tot

vandag toe nog die klassieke tyd noem, in taal, in kennis, in filosofie, in argitektuur, in wetenskap, in kuns. Hy vra

uitdruklik na waarheid, soos die denkers en geleerdes van sy tyd gedoen het. Hy worstel om skuld en onskuld uit

te vind, om reg te laat geskied. Hy bied genade en amnestie. Hy luister na die wense van die godsdienstige leiers,

wat – in miskien die mees ontsettende dramatiese hoogtepunt van Johannes se beskrywing – woedend, buite

hulleself, sonder om te begryp wat hulle doen, skreeu: ‘Ons het geen ander koning as die keiser nie!’ (Joh 9:15).

"Pontius Pilatus staan as ewige herinnering aan ons mislukking, nee, meer, ons aandadigheid aan die kruisiging van

hierdie Jesus. Sy naam bly behoue in die belydenis van die kerk van die eeue as ’n stuk kritiek op ons, ’n stuk

ontmaskering, ’n stuk ontbloting, van wie ons waarlik is en wat ons waarlik bedink en doen, selfs in ons beste

oomblikke. In ons hoogste strewes. In ons grootste prestasies.

"‘God’ is nie maar net ’n ander naam vir wat goed en mooi en waar is onder ons mense nie. Inteendeel. Deur die

eeue van die geskiedenis van die mensheid het ons graag so gedink. Het ons die woord ‘God’ gebruik as ons goed

gevoel het oor wat ons bereik het of wou bereik, die woord ‘goddelik’ as ons die hoogste waardes, strewes, ideale

en prestasie van ons gees wou naam gee. Het ons graag gedink ‘God’ is maar net ons-op-ons-beste.

"Maar die naam van Pontius Pilatus in die belydenis van die kerk van die eeue herinner ons daaraan dat dit nie so

is nie. Dat daar vir die ware God, wat waarlik goed is, en mooi, en waar, in óns geskiedenis, in óns wêreld, in ons

eie lewe, eintlik net plek is aan ’n kruis. Uitgedruk, weggestoot, onwelkom, aan ’n vloekhout. Dat die enigste manier

om Hóm te ken – vir ons in óns wêreld – deur lyding en kruis is. As God in ons wêreld verskyn, kruisig ons Hom."

Dit is so mooi dat die versoeking om dit net so oor te neem baie groot is. Tog moet ons rekening hou daarmee dat

prof Dirkie Smit se preek die Nicea-belydenis as teks het, en nie Matteus 27 nie. Daarom sal ons by hom kan leen,

maar nie sonder om die lyne wat reeds getrek is uit die oog te verloor nie.

Preekvoorstel

Voor ’n mens met die preekmaak self begin, help dit gewoonlik om dít wat jy van die teks verstaan het, in ’n enkele

boodskapsin te formuleer. In daardie sin gaan dit om die wat-vraag. As ’n tweede stap kan jy jou dan afvra wat die

teks, en dus jou preek, met die gemeente wil bereik. Dit is die hoekom-vraag.

Een moontlike manier om die wat-vraag vir ’n preek oor hierdie teks te beantwoord is: Ons wat gered is deur die

onregverdige lyding en dood van ons regter Jesus mag nooit ophou om met liefde en barmhartigheid teen alle

veronregting van mense te veg nie.

En wat moet hierdie preek bereik? Hoekom preek ons dit? Een moontlike antwoord is: Sodat die gemeente bewus

kan wees van hulle roeping om met liefde en barmhartigheid teen alle vorme van onreg te veg.

Hier onder volg ’n voorstel vir ’n preek oor hierdie gedeelte. Dit is net ’n paar lyne, of om dit met ’n ander metafoor

te sê: die geraamte. Die vleis van ’n werklike preek sit gedeeltelik hier bo. Die ander deel is saam met die vel te

vind in die gemeente vir wie jy moet preek.

Deur die loop van die eeue is verskillende antwoorde gegee op die vraag wat dit dan beteken dat ons gered,

versoen, verlos word deur Jesus. Geleerdes meen dat elkeen van die antwoorde tot een van drie basiese tipes

teruggevoer kan word. Een van die oudste antwoorde (Aulén noem dit die klassieke versoeningsleer) is dat ons

gered is uit die mag van die duiwel, sonde en dood. Verlossing beteken dat ons bedreig is deur ’n mag van buite.

Jesus het hierdie mag oorwin. Ons is gered. Daar is vandag nog kerke waarin die klem veral op hierdie aspek val.

Daarom praat hulle veral daaroor dat mense uit die mag van die Bose bevry moet word en dryf dan ook graag

duiwels uit die mense uit.

So ’n bietjie later in die geskiedenis het Anselmus van Kantelberg dit anders geformuleer. Ons groot probleem is

ons skuld voor die Here. Daarom moes Jesus kom om ons skuld vir ons te betaal. Hy is in ons plek gekruisig. God

se oordeel het Hom getref. Daarom ontvang ons die vryspraak uit genade alleen. Dit is die antwoord wat vir ons

gereformeerde gemoed die naaste aan die Bybel se spreke lyk. Daarom praat ons veral oor skuld en vergifnis. Ons

dink minder oor verlossing as vry word van die magte, en meer daaroor as om vry te wees van skuld. Daarom speel

die lees van die wet en die skuldbelydenis en vryspraak so ’n groot rol in ons erediens.

Nog later het ’n baie interessante man met die naam Petrus Lombardus en ’n hele klompie volgelinge in die

daaropvolgende eeue ’n derde manier geformuleer om oor versoening of verlossing te dink. Ons word deur die

voorbeeld van Jesus se liefde en deur die skok oor wat mense aan Hom gedoen het, gedwing om anders te begin

lewe, om ons saak met God reg te maak. Versoening is nie iets wat buite ons plaasvind nie, maar in ons. Deurdat

ons hart verander wanneer ons die verhaal van Jesus lees.

Natuurlik kan ons dadelik aan ’n groot klomp besware dink. Soos Lombardus dit gesê het, kan ons hom dit nie regtig

nadoen met die Bybel in die hart nie.

Maar ons sal ’n groot fout maak as ons nie raaksien nie dat in al drie hierdie sieninge aspekte van die Bybelse teks

is waarna ons eenvoudig moet luister. Veral Lombardus wat die verste van ons staan, verdien dat ons die fynste na

hom luister. Want ons het ook nodig om te hoor dat verlossing nie net beteken dat ons bevry word van die mag van

die duiwel nie. Of dat verlossing nie net opgesom kan word met skuldvergifnis uit louter genade nie. Maar dat

gehoorsaamheid aan die Here wat ons gered het ’n onlosmaaklike deel van die evangelieboodskap is – veral van

die Evangelie soos Matteus dit aan ons vertel. Want wat hy by Jesus gehoor het, het hom oortuig dat as ons

geregtigheid nie oorvloediger is as dié van die Fariseërs en die skrifgeleerdes nie, ons soos mense is wat ons huis

op sand gebou het. Die Here eis dat ons radikaal sal liefhê. En hierdie liefde neem verskillende vorme in

verskillende omstandighede aan.

Daarom vertel Matteus ook die verhaal van Jesus se verhoor oor.

Natuurlik wil hy hê dat ons daarin sal raaksien dat dit in ons plek was wat Jesus gesterf het. Dat dit ons sonde is

wat Hom die dood gekos het (kyk na die aanhaling uit prof Smit se preek oor Pilatus.) As dit nie so was nie, was

daar geen evangelie nie, en was ons almal verlore.

Maar hy wil terselfdertyd hê dat ons sal raaksien hoe goeie mense – die Joodse leiers – met Jesus gemaak het. En

hy wil hê dat ons sal raaksien hoe Pilatus met ’n goeie doel onreg pleeg, maar dat dit steeds ’n onreg bly waarvoor

Jesus moes sterf. As ’n mens dít eenmaal met jou hart verstaan het, word jy ’n vegter teen onreg.

Want onreg is oral in ons samelewing. Dit is oral om ons, en soms in ons. Luister maar hoe dikwels iemand wat nie

teenwoordig is nie in gesprekke "verhoor" word. (Gee voorbeelde uit eie omgewing. Pas net op. Dit is nie net

gemeentelede wat onreg ly nie. Is daar in ons praat en doen teenoor plakkers en ander van die armstes in die

samelewing nie dalk ook ’n stuk onreg nie? Is daar op ander terreine in die breër samelewing ook onreg waarteen

ons moet veg? Is aborsie nie dalk onreg teenoor die hulpeloosstes nie?)

Maar, en dit is die groot maar: As ons veg teen onreg moet ons dit nie doen met die selftevredenheid waarmee die

Joodse leiers Jesus oorgegee het om gekruisig te word nie. Ons moet dit doen met die barmhartigheid en liefde van

Christus. En met die nederigheid van mense wat weet dat ons oordele nie suiwer is nie. En met die wete dat ons

soms selfs ’n onreg pleeg wanneer ons iemand anders oor ’n vermeende onreg veroordeel. En met die wete dat

mense wat onreg doen, soos Pilatus, soms die verkeerde besluit neem omdat dit vir hulle na die beste uitweg uit ’n

moeilike situasie lyk. Dink byvoorbeeld aan ’n jong meisie wat ’n aborsie laat doen omdat sy andersins die lewe

vorentoe onmoontlik gaan vind.

Maar by dit alles is daar ’n troos. Die mag van die duiwel is verbreek. En ons skuld is vergewe. Daarom kan ons

met liefde dit vir ander help moontlik maak om te lewe.

Bibliografie

Kommentare: Walter Grundmann (THZNT); Hagner (WBC); Gerhard Maier (ECB2); Rudolf Schnackenburg (DNEB).

Ander: Aulén, Gustaf 1975. Christus Victor. London. Combrink, H J B et al 1980. Handleiding by die Nuwe

Testament IV. Pretoria. Lochmann, Jan Milic 1977. Versöhnung und Befreiung. Gütersloh. Pannenberg, Wolfhart

1972. The Apostles Creed. London. Thielicke, Helmut s j. Ik Geloof. Wageningen. Van Ruler, A A s j. Ik Geloof.

Nijkerk.