Ander tekste: Gen 28:10-19a; Ps
139:1-16; Rom 8:12-25
Burger (1987: 40-9) bespreek die gedeelte volledig. Wat hier volg is 'n précis daarvan. Eksegeties kies hy vir 'n hoofstukindeling
wat die gelykenis en die verklaring daarvan in een afdeling groepeer, nl. v.
24-34. Daarin gaan dit dan oor die
verborge en oënskynlike teenstrydigheid van die koms van die koninkryk.
Tweedens bespreek hy die historisiteit van die gelykenis en die
interpretasie daarvan. Hy kies vir 'n
standpunt wat die teks en basiese historisiteit van Matteus volledig ernstig
wil neem en daarom die verband en eenheid van gelykenis en interpretasie wil
handhaaf. (Sien Luz [1994: 77-82] vir
'n standpuntinname contra
Burger.) Burger erken egter die
problematiek tussen die gelykenis en uitleg daarvan. (Sien kommentare.) Hy los
die probleem op deur v. 36-43 te sien as 'n vervolg op 24-30 waarin die punt(e)
van 24-30 aangevul of uitgebrei word.
Die uitleg maak dan 'n aanvulling tot die gelykenis en terselfdertyd word
die bestaan van ander aspekte wat sterk figureer in die gelykenis, maar latent
bly in die uitleg, nie daarmee ontken nie.
Hy identifiseer 'n aantal verkondigingsmomente: Die basiese gegewe in die gelykenis is die koms van die koninkryk
wat nooit van Christus losgemaak kan word nie (v. 37). Naas die werklikheid van die koninkryk het
ons met 'n tweede werklikheid te make, die werk van die Bose. Uit die reaksie van die arbeiders is dit
duidelik dat hulle nie daarvan hou nie.
Hierdie geïrriteerdheid is waarskynlik die uitgangspunt vir Jesus se
vertel van die gelykenis. (Sien ook
Combrink [1989: 20].) Die arbeiders
ontvang duidelike opdrag. Hulle kan
niks meer doen as om te aanvaar dat die koninkryk in die tussentyd onder
aanvegting is nie. Vir die verkondiging
is dit belangrik om daarop te let dat Jesus duidelike redes vir sy opdrag
gee: dolik en koring lyk in 'n vroeë
stadium dieselfde; hulle wortelstelsels is verstrengel; die hele gelykenis
spreek van God se verdraagsaamheid en lankmoedigheid. (Sien hier veral Noordmans [1980: 290-1].) In 40-43 is daar 'n paranetiese toon. Die gelykenis wat oor mense buite die
koninkryk handel, eindig met 'n vermaning aan die adres van die dissipels. (Sien ook Combrink [1989: 20].)
Ten slotte vra Burger of dit die kerk wat 'n corpus mixtum is, of die wêreld. Hy wys dan op veral gereformeerdes se beswaar teen die identifikasie van kerk en koninkryk in Matt. 13. In hul erns met die tug is dit duidelik dat diesulkes nie die ideaal van 'n suiwer kerk wil prysgee nie. Andersyds waarsku hy teen 'n té rigiede tug-ideaal vir die kerk.
1. Burger waarsku teen gevaarlike
interpretasielyne: Die problematiek
rondom die ‘vyand’ moenie predikers so fassineer dat die troos in die gedeelte
agterweë bly nie. Daar moet tweedens
gewaak word om vanuit 'n deterministiese verkiesingsteologie die teks te
misinterpreteer. Onkruid kan inderdaad
nooit koring word nie, maar mense kan
tog besluite neem en verander. Derdens
sou dit juis 'n poging wees om die onkruid uit te trek as daar 'n oorhaastige
aanwysing van saad en onkruid vanaf die kansel sou plaasvind. Hy gee vervolgens 'n bondige samevatting van
vier preke.
2. Om die vervlegdheid van goed
en kwaad in ons maatskappy te illustreer, kan predikers van Meads (1991) se
insigte gebruik maak. Meads (om vir 'n
oomblik af te wyk van Burger) beskryf drie maniere waarop die kerk haar
apostolaat beskou het. In die
‘apostolic paradigm’ van die vroeë kerk was daar duidelike skeiding tussen
gemeente en wêreld. In die post-Konstantynse
‘christendom paradigm’ is die staat en kerk as christelik beskou. In hierdie paradigma is die sending-grens
die staat se grens en nie meer die gemeente se grens, soos in die apostoliese
paradigma nie. In die derde paradigma
waarin die kerk nou in beweeg, is die kerk en die empire nie meer dieselfde nie.
‘We now have to deal with the fact that in any geographic area the
majority of the people may have no interest in the chuch whatever’(Meads 1991:
25). Die omgewing waarin die kerk haar
tans bevind is dubbelsinnig.
'n Paar aanhalings uit Meads se boekie illustreer die komplekse
vermenging van ‘onkruid en koring’:
‘... the environment beyond the boundary (of the church) is ambiguous. It is not always hostile, although sometimes it is. It is not identical with the church, although sometimes it still is. Much that is in the environment is somewhere in between; the school systems, for example, attempt to teach truth and justice, but disconnected from their roots in biblical witness. The outside boundary of the congregation is porous and permeable... People move in and out with little sense of responsibility ... and little knowledge of what the congregation is about... A very uncertain congregation, then, looks ... to an environment that appears less and less friendly and wonders... It wonders how to differentiate itself from its environment. It does not know how to deal with environmental ambiguity in its own life and values’ (Meads 1991: 27).
Burger stel voor dat die Skriflesing in perspektief gestel moet woord
deur vooraf 'n opmerking te maak. Aan
die hand van Jesus se optrede teenoor Saggeus (Luk. 19: 7), die Kanaänitiese
vrou (Matt. 15: 23), die kindertjies (Mark. 10: 13) kan illustreer word dat sy
volgelinge geïrriteerd kon raak met sy optrede en hantering van sake. Dalk was Hy soms net té gelate, te rustig,
te oop en te genadig na hulle sin.
Hulle sou wou sien dat Hy meer ferm moes optree. Daarom vertel Hy by geleentheid 'n
gelykenis. Dan volg die
Skriflesing.
'n Alternatief tot Burger se inleiding sou wees om die gelykenis binne sy
konteks in Matt. 13 te plaas. Deur
Jesus se woorde in hierdie volgorde op te teken waarsku Matteus sy lesers teen
'n verkeerde konklusie uit Matt. 13: 10-17.
Jesus se uitspraak oor die verharding in daardie verse is by verre nog
geen definitiewe ‘laaste’ oordeel nie.
Om op grond van daardie verse 'n voorbarige en voortydige skeiding te
wil maak, iets waartoe Matteus se lesers (Matt. 18:15, 21 ev.) (en ons)
skynbaar geneig is, sou verkeerd wees.
(Sien eksegese by Sesde week in Koninkrykstyd.)
Met die eerste deel van sy preek wil Burger Jesus se bedoeling met die
gelykenis weergee. Met die
koninkryksgelykenis wil Jesus 'n paar aspekte van die aarde en werking van God
se koninkryk verduidelik. Die dissipels
moenie nou al veroordeel nie, want God se oordeel kom beslis. Op die manier word hulle besorgdheid oor reg
en geregtigheid besweer. Intussen moet
hulle aanvaar dat hulle in 'n gemengde gemeenskap woon waar die Bose ook werk
en 'n rol speel. Dit moet ons egter nie
laat twyfel aan die werklikheid (en werklikheid - vergelyk 13: 31-33) van God
se koninkryk nie.
Wat gebeur nou as mense hierdie geheim van die koninkryk verstaan? Ten eerste leer hulle geduld. Toleransie is 'n teësinnige duldende
gewag. Geduld daarenteen is
lankmoedigheid wat ten nouste saamhang met 'n dieper verstaan van God se
liefde. Dit het te doen met die feit
dat God bereid is om mense (v. 38)
kans te gee. As 'n mens aan eie lyf
ervaar het dat God onkruid kan verander, dan word jy bereid om vir ander te
wag. Die tweede wonder wat gebeur is
dat 'n mens jou ewige lus om altyd te oordeel verloor. Die gelykenis is dalk 'n verduideliking van
Jesus se woorde in 7:1.
Waarom dan nie oordeel nie? Ten
eerste omdat dit oor die koring gaan.
Vanweë die verstrengeldheid (vergelyk Meads) van koring en onkruid kan
jy deur te oordeel die baba met die badwater uitgooi. Tweedens kan jy jou vergis, die twee lyk na mekaar, ons kyk mense
voor die kop, nie in die krop. 'n Laaste
rede is dat daar in ons eie lewens 'n hele klomp onkruid oorgebly het. As jy dan móét oordeel, begin maar voor eie
deur te vee.
Burger, C W 1987. Matteus 13:24-30, 36-43, in Burger, C W, Müller, B A, & Smit, D J [reds.], Woord teen die lig II/2: Riglyne vir prediking oor die gelykenisse en wonderverhale, 40-8. Kaapstad: Lux Verbi. Combrink, H J B 1989. Die evangelie volgens Matteus, in Verklarende Bybel, 1-41. Kaapstad: Lux Verbi. Luz, U 1994. Matthew in history: Interpretation, influence and effects. Minneapolis: Fortress. Meads, L B 1991. The once and future church: Reinventing the congregation for a new mission frontier. New York: The Alban Institute. Noordmans, O 1980. Verzamelde Werken VIII, 286-91. Kampen: Kok.