Ander tekste: Gen 12:1-9; Rom
4:13-25; Ps 33:1-12
1.1 Die teks funksioneer binne die raamwerk van die koninkryksprediking
van Jesus. Die eerste fase van die optrede van Jesus fokus op die wondere wat
Hy verrig. Die gedeelte word dan ook omgewe met ongeveer 10 wonderverhale
vervat in hoofstukke 8-9. Die doen van wondere dien 'n dubbele doel: eerstens om juis die Messiasskap van Jesus aan
te toon in lyn met wat die OT profesieë as herkenningseienskappe van die
Messias gesê het en dat deur Hom die koninkryk nou in vervulling gegaan het. Hy
is die Bringer van die nuwe lewe. Tweedens, is dit die eskatologiese
bekendmaking en voorlopige tekens van die koninkryk self. Die toekomstige
koninkryk sal gekenmerk word deurdat dit vry sal wees van die ellendes
waaronder die mens gebuk gaan vanweë die sonde.
1.2 Omdat Jesus die koninkryk van die hemele nie sonder die betrokkenheid
van mense gaan laat kom nie, moet Hy mense voorberei om sy medewerkers te word
in die proses van die vervulling daarvan op pad na die voleinding. Tegelyk met
sy eie bekendstelling as Messias deur die doen van wondere, roep Hy ook
volgelinge om hulle voor te berei vir die taak. Die eerste dissipels is reeds
in 4:18 - 22 geroep. Hulle was vissermense van beroep. Hierdie dissipel is weer
Matteus die tollenaar. Die afsonderlike beskrywing van sy roeping het
waarskynlik te make met die moontlikheid dat hy die outeur van die Evangelie
is. In die " hiërargie" van die dissipels is hy maar sewende (Mark
3:18; Luk 6:15) of agste (10:2-4). Behalwe die vyf word die ander lede van die
twaalf se roeping nie beskrywe nie.
1.3 Die gedeelte val binne "Boek Twee" wat by 8: 1 begin en by 11: 1 eindig in die
vyfboekige skema van Matteus. Die
kenmerk hiervan is die afwisseling van prediking en vertelling, woorde en dade,
wat ook opvallend is by die hele Matteus. Binne die chiastiese struktuur
korrespondeer dit met hoofstukke 19-22. Want in beide gevalle is die aksent op
Jesus se gesag. In die eerste geval demonstreer Hy sy mag onder andere deur 10
wondere te verrig. In die tweede geval word sy gesag bevraagteken wat tot
gevolg het dat Hy vervolg en gekruisig word.
1.4 Daar is twee sake aan die
orde: Eers is daar die roeping van Levi-Matteus tot dissipelskap. Daaruit vloei
dan voort die twisgesprek met die Fariseërs oor Jesus se assosiasie met
tollenaars. Die weergawe van Markus verskil op enkele punte van Matteus, soos
die agtergrond wat by Mark by die see is, die
opponente van Jesus wat skrifgeleerdes insluit en die OT aanhaling oor barmhartigheid wat
ontbreek. Laasgenoemde ontbreek ook by Lukas se weergawe netsoos die
see-agtergrond ook. Hy maak wel van die ete by Levi tuis 'n feesmaal.
2.1 Die aksent op die gebruik van
name by Matt is baie interessant. Hy noem graag die naam, Jesus, die
Verlosser-mens, terwyl die tollenaar die gewone "man" is. Tog noem hy
die "man" ook by die naam, Matteus, wat eintlik sy dissipel-naam is
en wat beteken: gawe van God (Is Levi dalk sy stamnaam?) Hy wil moontlik
hiermee die klem plaas op dissipelskap.
2.2 Die beskrywing van die roeping van Matteus is tiperend van die
andere. Dit geskied by hulle werkplek, in die geval by die tolhuis, waarskynlik
geleë aan die buitewyke van Kapernaüm. Jesus het hom ge"sien" wat
daarop dui dat hy tussen al die ander uitgesonder word. In die "verder
gaan" beweging word hy geroep wat simbolies kan wees van die proses van
die maak van dissipels. Dat hy ook onmiddellik volg, sonder enige verdere
inligting of selfs nadenke, spreek van die mag of gesag van die Een wat roep
wat alreeds in 9:7 deur die skare erken is. Die gebruik van die teenwoordige
tyd vir "sê" dui op die blywende en onweerstaanbare betekenis van die
roeping.
2.3 Die woorde, "Volg My", moet in sy omvattende betekenis
verstaan word. Dit bevat 'n oproep tot sondebelydenis, bekering en geloof in
Jesus as die Messias. Dieselfde geld ook vir die reaksie, "opgestaan en
Hom gevolg". Dit bevat Matteus se oorgawe in die breër sin van die woord.
Dat daar egter 'n groter doel met Matteus is, lê in die verskil met die eerste
prediking van Jesus wat slegs oproep tot "bekering" in aansluiting by
Johannes die Doper se prediking. Ook by die genesingswondere word die genesings
ook in omvattende sin bedoel, maar die genesene word nie geroep om te volg nie. Die oproep om Jesus te volg wil
dus spesifiek dui op 'n besondere verbintenis tot dissipelskap
2.4 Die roeping en navolging word
gevolg met 'n maaltyd by die huis van Matteus. Volgens die verloop van die verhaal
en op grond van die woorde, " saam... kom eet" lyk dit of die ete op
aandrang van Jesus was en of Hy die gasheer was. Vergelyk ook die verhaal van
Saggeus. So wil Jesus sy solidariteit met tollenaars bewys. Lukas se weergawe
wek egter die indruk dat die feesmaal op Matteus se uitnodiging was. Om saam te
eet en dan nog by iemand tuis te gaan is meer as maar net sosialiseer. Daarom was daarvoor ook veelvuldige rabbynse
voorskrifte. In die geval was die tollenaars 'n gebrandmerkte groep. Die
kategorie van "sondaars" verwys waarskynlik na diegene wat in die oë
van die Fariseërs as sondaars beskou was omdat hulle nie die voorskrifte van
die wet soos deur die Fariseërs uitgelê, nougeset nagekom het nie. Dit was die
oorgrote meerderheid van die gewone
" mense van die land" (am ha-arets) Dit is duidelik dat beide die
gemarginaliseerde groepe onder die indruk was van die empatie van Jesus en
daarom het baie ook na die maaltyd gekom alhoewel hulle volgens Matteus nie
noodwendig deelgeneem het aan die maaltyd nie.
2.5 Hierdie optrede van Jesus lok 'n gesprek uit tussen die Fariseërs en
die dissipels van Jesus. Die Fariseërs verstaan die betekenis van saam eet. Vir
hulle is Matteus iemand met wie nie die soort gemeenskap gevoer kan word nie.
Tollenaars was verag omdat hulle in diens gestaan het van die onderdrukker of
van diegene wat geheul het met die Romeinse onderdrukker. In die geval was dit
waarskynlik Herodus Antipas. Verder is hulle as onrein geag vanweë hulle kontak
met die heidene uit die aard van hulle werk as tollenaars. Die Fariseërs het
reeds eerder Jesus se gesag as leermeester erken, maar hulle toon ook aan dat
hulle hul van sy leringe distansieer deur die verwysing na "julle
leermeester" Daar is ook alreeds duidelik 'n navolging vir Jesus deur
Matteus aangedui as "sy dissipels" en by wie hy nou gaan aansluit.
2.6 Jesus het die vraag gehoor en gee daarop 'n drievoudige respons. Die
eerste deel is by wyse van 'n gelykenis oor wie 'n geneesheer nodig het. Die
gebruik van die voorbeeld wil juis die verband lê tussen siekte en sonde en
aansluit by die baie genesingswondere van hierdie konteks waarin Jesus die
"geneesheer" is. Uiteraard wil Jesus nie noodwendig die Fariseërs as
"gesond" beskou nie. Dit word eerder gesê vanuit die gesigspunt van
hoe hulle hulself beskou, naamlik dat hulle "gesond" is en die
tollenaars en sondaars "siek". Volgens hulle eie verstaan het hulle
Jesus nie nodig nie maar die verstotelinge wel en daarby sluit Jesus aan.
2.7 Die tweede deel van die
respons kom uit die Ou Testament (Hos 6:6a) en is fundamenteel vir die verstaan
van die gedeelte. Dit is 'n kritiek op die Fariseërs se verstaan van die OT en
verklaar Jesus se optrede in die lig van die OT. Hulle godsdienstige opvattings
lê die klem op die offersisteme van die OT dus die meer wettiese en
reinheidskarakter van die OT godsdiens wat hulle op die volk afgedwing het,
terwyl die eintlike boodskap van die OT, volgens Jesus barmhartigheid is, soos
Hy reeds in die Bergrede (5:7) duidelik gemaak het en soos dit in 9:36 na vore
kom. In Hom manifesteer die barmhartigheid sigself. Matteus gee dit weer as 'n aanhaling om juis te beklemtoon dat
dit God se opdrag is.
2.8 In die derde deel van die respons maak Jesus nou duidelik wat sy
eintlike sending is, naamlik om sondaars te roep. Soos in die eerste deel van die respons, wil Jesus nie eintlik impliseer dat die Fariseërs op
die regte pad is nie. In kort wil Jesus hulle eintlik tot nadenke bring oor
hulle eie "gesondheid" en of hulle " op die regte pad" is.
3.1 In die prediking sal die fokus moet wees op die roeping tot
dissipelskap. Die eerste kenmerk hiervan is dat dit "gewone" mense
was wat hiertoe geroep is. Die voorbeelde van diegene wat geroep is, dui daarop
dat hulle nie uit die kringe van die geestelike leiers gekom het nie, maar juis
deel uitgemaak het van diegene wat dalk nie te gelukkig was met die leiding
nie, en "wat uitgeput en oorlaai" (11:28) was. In die geval van Matteus het ons te make met
'n tollenaar, dus iemand wat deur sy eie gemeenskap uitgestoot en verwerp was
vanweë sy assosiasie met die "vyand" en sy onreinheid. Hy is dalk 'n
ekstreme voorbeeld van iemand wat gemarginaliseerd is.
3.2 Dit is ook duidelik dat die
roeping 'n omvattender betekenis het as dat die geroepene maar net moet volg.
Daarin lê ook die persoon se "genesing". Die roeping beteken nie dat
Jesus die persoon se lewenstyl goedkeur nie. Jesus wil wel sy solidariteit met
die persoon toon in die nood en verwerping waarin hy gekom het vanweë sy lewe.
Daarom is Jesus bereid om intiem met so iemand geassosieer te word soos tot
uitdrukking kom in die "saam eet". Maar dit is duidelik dat hy
daaruit gered moet word en sy redding lê ook daarin dat hy vir Jesus navolg.
Dissipelskap vereis ook dat so iemand "op die regte pad" gelei word.
Jesus wil die mens uit sy totale verlorenheid red.
3.3 Dissipelskap vra 'n offer. Matteus was 'n tollenaar en hy word nou
geroep om Jesus na te volg. Dit impliseer dat hy sy werk sal moet opoffer. Om
tollenaar te wees in die tyd was waarskynlik
materieel gesien, baie voordelig. Daarom dat mense bereid was om dit te
doen ten spyte daarvan dat dit binne die gemeenskap baie onpopulêr was. Matteus
kan ook 'n feesmaal bekostig wat ook weerspieël dat hy dit kon bekostig. Hy
word gevra om dit alles nou prys te gee en Jesus te volg, wat hy ook doen. 'n
Mens sou kon wonder oor sy motiewe en
of dit uit onkunde oor die verdere konsekwensies daarvan was.
3.4 Daarom moet ook gelet word op die mag van Jesus se roeping. Matteus reageer onmiddellik op Jesus se opdrag. Hy dink nie na oor die moontlike implikasies nie, of wat hy alles prysgee nie. Hy doen selfs nie navraag oor wat van hom verwag sal word nie. Daar is ook geen aanduiding dat hy vooraf in aanraking met Jesus was nie, behalwe dat hy moontlik kennis geneem het van die gerugte wat in omgang was aangaande Jesus nie. Die feit dat Jesus hom uitgesonder het kon hom dalk oorweldig het. Maar dit moet veral die onweerstaanbaarheid van Jesus se roepingswoord gewees het wat hom so spontaan laat reageer het. Dit beklemtoon weereens Jesus se Messiasskap en die gesag van sy woord.