Ander tekste: Gen 18:1-15; Rom
5:1-8; Ps 116:1-2, 12-19
1.1 Hoofstuk 9:35 tot 10:42 vorm
'n eenheid met 'n sterk missionêre karakter het. Dit neem die kentering verder
wat alreeds by 9:9 ingetree het en waarin dit duidelik word dat die
verantwoordelikheid om die evangelie van die koninkryk van die hemele te
verkondig uiteindelik mede die dissipels s'n sal word. Waar die voorafgaande
gedeelte gekenmerk word deur die wonderverhale, is dit wat volg veel meer
lerend van aard, veral wat betref die karakter van en gevolge vir dissipelskap.
Hierdie gedeelte wat die bekendmaking van die name van die dissipels insluit,
is dus 'n soort skeiding tussen die wondere-fase waardeur die toekomstige aard
van die koninkryk in die hede gedemonstreer word en die onderigsfase waarin die
aanstaande deelnemers aan die verkondiging aangaande die koninkryk in die hede
geleer word. Die gedeelte stem, in terme van struktuur en inhoud, baie ooreen
met 4:12 tot 5:1, wat ook begin met 'n narratiewe gedeelte waarin Jesus as't
ware ook by Johannes die Doper "oorneem", gevolg deur die roeping van
die eerste vier dissipels en dan die groot leerrede bekend as die Bergrede.
1.2 Drie dele kan onderskei word: a) 9:35-36 bevat 'n beskrywing van die
aard en omvang van die nood; b) 10:1-2
kondig die dissipels aan wat betrokke gaan wees in die insameling van die
oes; c) 10:5-8 dui die aard van hulle
opdrag aan. Die hele gedeelte
weerspieël 'n verskuiwing weg van Jesus af na die dissipels toe. 9:35 stem in
'n groot mate ooreen met 4:23-35 en is in beide gevalle 'n uitgebreide
opsomming van Jesus se veelvuldige aktiwiteite wat die inhoud van die evangelie
van die koninkryk van die hemele uitmaak. Dit sluit in die geografiese gebied
wat gedek word, maar ook dat Jesus veel meer en 'n groter verskeidenheid van
wondere gedoen het as die wat in besonderhede deur Matteus beskryf word. 9:36
wil weer met behulp van 'n gelykenis Jesus se diepste beweegrede aandui.
1.3 Terselfdertyd dien dit as 'n voorbereiding vir die roeping van die
dissipels. 9:37 funksioneer as 'n oorgang tot 10:1. Hier is die eerste opdrag
tot die dissipels om te bid, weereens by wyse van 'n gelykenis. 10:1 stem
ooreen met 9:35 wat betref dit wat Jesus self gedoen het en die mag wat Hy nou
aan die dissipels gee om te doen. By 10:1 word die mag om duiwels uit te dryf
nou ook toegevoeg. 10:2 lys die name van die twaalf dissipels en bevat ook name
van diegene wie se roepingsverhale nêrens beskryf word nie. Waar 10:1 die
bemagtiging van die dissipels bevat, skryf
10:3-8 hulle uitsending met die opdrag wat daarmee gepaard gaan. Die
verrassende van die opdrag is die beperking wat gelê word op die dissipels om
hulle tot volk Israel te beperk. Weereens is die mandaat dieselfde as eerder
met toevoeging van die opwekking van dooies. 10:8b dien as 'n gepaste
afsluiting van die gedeelte.
2.1 Die mees aangrypende van die
gedeelte is Jesus se meelewing met die mense in hulle nood. Die nuus aangaande
Jesus se werksaamhede het vinnig versprei en die gevolg was dat baie na Hom toe
gekom het. Selfs die versoek tot
"geheimhouding" deur Jesus (9:30) het nie veel gehelp nie, want "So iets het
nog nooit in Israel gebeur nie" (9:33). Die omvang daarvan het Jesus onder
die indruk gebring van die diepte van hulle nood. Dit word hier beskryf met
moegheid en hulpeloosheid. Die beeld om die toestand van God se volk as 'n
herderlose kudde te beskrywe, kom ook
in die OT voor (Num 27:17; 1 Kon.22:17; 2 Kron 18:16; Jer 23:1-6). In 11:28
word hulle nood beskryf as uitputting en oorlading.
2.2 Jesus het die toestroming
ge"sien", dit wil sê nie slegs die veelheid van mense nie, maar ook
die diepte van hulle nood. Die woorde,
"innig jammer", beskryf sy bewoënheid oor hulle toestand en hoe Hy
met ontferming oor hulle vervul is. Met die gebruik van die woord, splanchnidzetai, word in sterk taal
aangedui dat Hy aangegryp is deur hulle omstandighede en dat Hy vol
barmhartigheid is vir hulle. Dit word ook
geïllustreer deur die ywer en oorgawe waarmee Hy probeer om hulle nood
te verlig selfs tot Hy erg vermoeid was. Sy lewe was een onafgebroke toewyding
in diens aan die koninkryk
2.3 Interessant is nou die positiewe wyse waarop Jesus die situasie van
die skares beskrywe om die dissipels ook betrokke te kry by hulle
bearbeiding. Hy gebruik weereens die
gelykenis van die oes en die arbeiders (vgl Joh 4:35). Dit verwys uiteraard nie
slegs na die onmiddellike situasie nie, maar bevat ook 'n eskatologiese
heenwysing. Dit wat as "nood"
ervaar word, kan in 'n positiewe sin as "oes" gesien word wat "
gereed" is vir die koninkryk en wat deur die verkondiging "binnegehaal" moet word. En daarvoor is arbeiders nodig.
2.4 Die versoek om te
"bid" het 'n tweërlei doel: Eerstens, wil dit weereens die nood
onderstreep maar nou van 'n ander aard, naamlik van te min arbeiders om die
groter nood te verhelp. Tweedens, wil dit beklemtoon dat die oes en sy
insameling aan die Here behoort. Dit beteken dus dat beide oes en arbeiders die
Here s'n is, en dat Hy die Subjek van beide is.
2.5 In die volgende scenario word
die gebed nou ter sprake gebring. Die dissipels word slegs "nader
geroep". Dit sou beteken dat uit al die dissipels in die breë sin van die
woord, dit wil sê, uit al diegene wat Jesus reeds navolg, hulle nou in 'n besondere sin geroep
word. Jesus gee nou mag aan die
dissipels. Dit beteken nie dat Hy sy mag aan hulle oordra nie sodat Hy nou
sonder mag sou wees nie. Eerder bemagtig Hy hulle om ook te doen wat Hy doen,
want uiteindelik kom alle mag van God (9:8). Die mag wat hulle besit, sluit in
die vermoë om alles wat Hy reeds getoon het, ook te kan doen. Hulle neem deel
aan sy mag, maar dit bly steeds sy mag.
2.6. Wat die lys van dissipels betref; dit gaan blykbaar in die eerste
plek nie om 'n hiërargie van samestelling nie, maar eerder om hulle volmag.
Opvallend is wel dat Petrus eerste genoem word, waarmee moontlik sy
leierskapsrol erken word, terwyl Judas Iskariot weer laaste genoem word wat kan
dui op sy "afvalligheid" as apostel.
Wel word hulle nou hier "apostels" genoem, wat die aksent
plaas op hulle uitsending. Dit wil sê
dat hulle bemagtig is om mede-aktief en verantwoordelik te word, dus nie net
meer navolgers en toeskouers te wees nie.
Hulle is gevolmagtigdes, dit wil sê hulle mag optree namens die Een wat
hulle gestuur het. Wie hulle ontvang, ontvang Hom en God wat Hom gestuur het (10:40). Hulle word in pare genoem,
wat moontlik 'n aanduiding van die vroeë sendingbenadering kon wees. Die eenmalige
gebruik van die woord, apostel, kan ook 'n aanduiding wees van die aanvang van
die kerk.
2.7 Die apostelskap word verder benadruk in 10:5 waarop nou die opdrag
beskryf word. Die opdrag bevat 'n verbod en 'n gebod. Die verbod sluit sekere
arbeidsvelde uit, naamlik die heidennasies. Ook die Samaritane word spesiaal
genoem in die uitsluiting. Binne die breër raamwerk van Matteus is dit
verbasend. Die sogenaamde groot opdrag van 28:16 en verder staan direk
hierteenoor wat betref die heidene. In die Bergrede word juis die liefde vir
die vyande beklemtoon wat sekerlik die Samaritane insluit, wat algemeen gesien
was as van die grootste vyande van die Jode. Die "eksklusiwiteit"
hier is waarskynlik bedoel om juis die beweging van Israel na die nasies te
beskrywe. Die boodskap gaan eers baie spesifiek na Israel wat dit dan gaan
verwerp, waarna dit dan na die nasies sal gaan. Maar eers moet gepoog word om
Israel te behou. Die "pad na die
heidennasies" dui op diegene buite die grense van Israel, terwyl
"dorp van die Samaritane" tog weer die nabyheid van en verbondenheid
met, maar ook afstand van Israel weergee. Die sendingveld word nou wel
aangegee: die verlore skape van die volk Israel. Dit verklaar duidelik ook Israel se verlorenheid. Die beeld van
die skaap/herder (9:36) word hier verder gevoer om hulle afdwaling aan te toon, maar om ook die noodsaaklikheid
van soeke weer te gee. Is hierin ook al 'n aanduiding van die konstituering van
die nuwe Israel?
2.8 Die spesifikasies van die opdrag word nou uitgespel. Dit sluit in
genesing, opwekking, reiniging en uitdrywing, dit wil sê alles omvattend. Dit
is die nood wat hulle herderloos, moeg en hulpeloos laat lyk. Dit is die
karakter van die oes wat ingesamel moet word. Die inhoud van die opdrag verskil
nie van dit wat Johannes die Doper verkondig het nie (3:2) of wat Jesus self as
sy missie gesien het nie (4:17).
2.9 Die slotsin dui waarskynlik op die mag wat hulle ontvang het om die
opdragte uit te voer. Dit was bedoel om aangewend te word in konkrete dade. In
die opsig is hulle nog steeds navolgers van Jesus, want van hulle word gevra om
juis die dinge te doen wat Hy gedoen het. Belangrik is egter om te weet dat
hulle dit "verniet" ontvang het. Hulle besit dus nie die mag nie, en
hoef dus ook nie krampagtig daaraan vas te klou uit vrees dat hulle dit kan
verloor nie.
3.1 Die fokus sal hier moet val op die
nood van die wêreld en die verskillende wyses waarop dit sigself
manifesteer, naamlik in die besetenheid deur die bose, in allerlei vorme van
onreinheid, in verskillende soorte siektes en kwale, selfs in die dood wat die
loon van die sonde is. Dit is nie alleen aanwesig by diegene wat nie tot God se
volk gereken word nie, maar ook juis by hulle wat sy volk is. Ook hulle is
verlore en moet dus eerste bearbei word, miskien ook veral ten opsigte van
hulle houding teenoor die ander volke. Vanuit die perspektief van die wêreld
self word dit met 'n negatiewe metafoor
beskrywe, soos skape sonder 'n wagter. Vanuit die perspektief van die koninkryk
word dit met 'n positiewe metafoor beskrywe, as oes wat ingesamel moet word.
Volgens Jesus se woorde en dade belowe God se koninkryk presies die
teenoorgestelde van wat die wêreld nou bied, naamlik geregtigheid en vrede en
geluk.
3.2 God bewys sy solidariteit deur die sending van Jesus, wat die goeie
nuus van die koms van die koninkryk van die hemele aankondig en iets daarvan
nou reeds demonstreer deur die doen van
wondere waarin Hy die lot van die noodlydende mense omkeer van siekte
tot gesondheid, van onreinheid tot reinheid, van besetenheid tot vryheid, van
dood tot lewe. Dit is die evangelie, die goeie nuus vir mense. Dit kom uit 'n
hart vol erbarming en meelewendheid vir hulle. Dit is die vreugde soos wanneer
'n groot oes ingesamel moet word, maar om dit betyds te doen, het jy veel
arbeiders nodig.
3.3 Daarom betrek Jesus ook van sy dissipels (volgelinge) deur hulle
afsonderlik te roep. Eintlik is dit God
wat hulle tot apostels maak (gestuurdes) op grond en deur middel van sy Seun
wat Hy eerste bemagtig en gestuur het.
Die Seun roep hulle eers tot
dissipelskap, dit wil sê, agter Hom aan om hulle te leer, maar ook om hulle te
bemagtig om mede oes-insamelaars vir die koninkryk te maak. Hulle werk is die
verlengde van sy werk. Om aan te toon dat diegene wat ingesamel word nog steeds
die volk van God is, word twaalf apostels gekies wat heenwys na die twaalf
stamme van Israel. Maar juis die feit dat hulle uit die bestaande volk ingesamel word dui daarop dat hulle ook 'n
nuwe volk is en dit word in die later opdrag bevestig deur die universele samestelling wat die volk kry (28:16). Die
eerste apostels word uitgestuur om eers onder die ou verbondsvolk te werk.
Later gaan die verkondiging tot al die nasies. Saam vorm beide die nuwe volk
van God.
3.4 Die roeping van die twaalf is die roeping van die volk van God en is dus die roeping van die kerk. Die kerk het die volmag ontvang om in navolging van Jesus sy werk aangaande die verkondiging van die koninkryk se koms voort te sit in die noodlydende wêreld. Die kerk word opgeneem in die beweging van die vervulling van God se koninkryk tot die voltooiing daarvan. Hierdie mede-betrokkenheid van die kerk is genade, want op geen wyse verdien die kerk die roeping nie. Hy het self die heil uit genade ontvang en kan alleen dankbaar wees en kan dus nie anders nie as om dit in dankbaarheid deur te gee aan ander. Daarom moet die kerk ook die nood van die wêreld rondom hom/haar met diepe bewoënheid raaksien, maar ook die potensiële waarde en waardigheid wat die koninkryk aan die mens gee, raaksien en nou reeds iets onder die mense waar maak.