Genesis 9:8-17 – 21 Februarie

Eerste Sondag in Lydenstyd

Dit is baie belangrik dat kinders die Bybel leer ken. Vertel gewoon vir hulle die verhaal van Noag en die reënboog! Jy kan ook ‘n reënboog maak met ‘n glas water en wit papier (skakel ingesluit). Verduidelik vir die kinders dat die reënboog ons herinner aan God se beloftes – dat Hy ons God is en lief is vir ons. Jy kan ‘n pragtige inkleurprent met ‘n reënboog aflaai. Die preekriglyn begin met die verhaal van die vloed in Laingsurg op 25 Januarie 1981. Dit het gebeur in dié Karoo dorp se eeufeesjaar. ‘n Groot deel van die dorp is binne minute deur ‘n verwoestende fratsvloed weggespoel. Ons het pas in Januarie 2021 die veertigste herdenking van die vloed beleef. Uiteindelik het 104 lewens in die slag gebly. Benewens hierdie onbeskryflike verlies aan geliefdes, het die vloed ook 185 huise, die tuiste vir bejaardes en 23 kantore verwoes. Ander geboue is erg beskadig. Slegs 21 huise en die NG kerkgebou het ongeskonde staande gebly. Ons teks roep ‘n kosmiese vloed in herinnering toe alle vlees verwoes is, uitgesonderd die lewens van mens en dier wat deur die ark heen gered is. Hierdie wêreldwye vloed het gevolg op God se droefheid oor die wêreld se sonde en onreg. God het besluit dit is verby met die wêreld. God het egter vir Noag en sy mense genade gehad. Noag, sy gevolg en diere word gered sodat God met hulle ‘n nuwe begin kan maak. Daarom is daar ‘n ondertoon van blydskap en dankbaarheid in ons teks. Na alles verby is, kom God op eie inisiatief na Noag en sê dat Hy steeds trou aan die aarde bly. God sê: Nooit weer nie. Dit is sy verbond met ons. Hierdie belofte en verbond herinner ons daaraan dat geen katastrofe ons uit God se hand kan ruk, of die oorhand in die wêreld kan kry nie. Soveel méér nog as ons in Lydenstyd daaraan dink dat die belofte, die verbond, in die lewe en kruisdood van Christus waar gemaak is. Juis omdat Christus geleef en vir ons gesterf het, is die angel uit elke katastrofe gehaal.

Laai af: WordPowerPoint

Comments (3)

Laat 'n boodskap na Webmeester Kanselleer die opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui