Skrywer: Webmeester

Matteus 25:1-13 – 12 November

Vier en Twintigste Sondag in Koninkrykstyd

Hier is ‘n paar idees vir die kindertyd met skakels na nog voorstelle: Worshiping With Children: Year A – Proper 27, 32nd Sunday in Ordinary Time, 22nd Sunday after Pentecost (November 9, 2014) of verduidelik voor die skriflesing hoe lampies in Jesus se tyd gewerk het.  Kinders kan ook die skriflesing opvoer mbv lampies – of flitsies met pap batterye. Gesels met die kinders oor kragonderbrekings.  Vra hoe hulle te werk gaan wanneer daar kragonderbrekings is.  Baie mense gebruik kerse.  Maar dit beteken ons moet voorbereid wees op die kragonderbreking, omdat ons baie keer in die donker moet soek vir kerse en vuurhoutjies – die kerse en vuurhoutjies moet op hulle plek wees.  Maak seker almal verstaan wat “voorbereid” beteken.  God berei ons voor en werk in ons om gereed te wees vir Jesus se wederkoms.  Ons kan probeer om gereed te wees, maar dit is God wat in ons werk. Of jy kan gesels oor al die goed wat mamma in haar handsak saamdra, gereed vir byna enige situasie.  Pak jou handsak uit om te wys waarvoor jy alles gereed is.  (Of, as jy ‘n man is, leen ‘n handsak en wys wat alles daarin is.)  Idee by http://onthechancelsteps.wordpress.com/2011/10/23/again/

Die preekriglyn sluit aan by een van die mooiste geleenthede wat mens kan bywoon, ‘n bruilofsfees. ‘n Bruid en ‘n bruidegom verbind hulle aan mekaar voor die aangesig van die Here, wat hulle in die eerste plek na mekaar gelei het. ‘n Bruilof is ‘n fees want dit verteenwoordig die mooiste en van die diepste aspekte van mens-wees. In ons teks gebruik Jesus die gebruike rondom die destyds Joodse huweliksluiting en bruilofsfees om ons lewe in die koninkryk van God te beskryf. Die bruilofsfees is die mikrokosmos van die lewe. Waar die jong meisies hul verantwoordelikheid óf nakom óf verspeel. En dié wat dit verspeel, wat nie voorberei vir die toekoms en nie wys optree nie, hulle bevind hulself in ‘n ongemaklike posisie. “Gee vir ons van julle olie,” smeek hulle. Die wyses weet egter dit is beter dat die lampe lig verskaf, selfs al is dit minder lig, as wanneer daar geen lig is nie. Want dan is die bruilofsfees verwoes. Dit is beter indien sommige hulle goed van hul taak kwyt en so nog ‘n wêreld in stand kan hou wat ietwat werk, as wanneer niemand in staat is om die nodige werk te doen nie.

Wees dan waaksaam, want ons ken nie die dag en uur wanneer die Here weer kom nie. Laat ons waaksaam wees om deel te neem aan die goeie van God se koninkryk. Laat ons waaksaam wees vir die geleentheid om ons dwaasheid raak te sien. Laat ons waaksaam wees vir die soeke na wysheid. En laat ons waaksaam ons verantwoordelikheid op ons skouers neem, as die kruis van Christus, om te bou aan die ideaal van die koninkryk van die hemele, vir onsself, ons kinders, ons naaste en selfs ons vyand.

Laai af: WordPowerPoint

Matteus 23:1-12 – 5 November

Drie en Twintigste Sondag in Koninkrykstyd

Die inleiding van die preek by missio.org kan goed werk ook vir ‘n familie-oomblik. Kinders sal aanklank vind by die gedagte dat ons nie hoef te probeer om belangriker te wees as ander nie. The Tower: A Story of Humility deur Richard Paul Evans vertel ‘n lekker storie oor die betekenis van nederigheid. Hier is ‘n video daarvan. Of kyk hier. Jy kan ook hierdie oulike idee gebruik: vertel vir almal hoe goed jy is met torings bou. Bou dan ‘n toring van blokkies – wat natuurlik omval. Sluit dan aan by die boodskap van die teks.  Hier is ‘n inkleurprent – sommer van vriendelike mense.

Ons teks rig ‘n ernstige waarskuwing oor mense wat praat sonder doen, wat swaar laste op ander plaas sonder om self aan hulle eie standaarde te voldoen. Dit is mense wie optree om ander te beïndruk, wat van die voorste gestoeltes en hulle titels hou. Aan die binnekant gaan daar nie veel aan nie. Jesus het natuurlik sy visier op die Joodse godsdienstige leiers, die skrifkenners en Fariseërs, ingestel. Hulle gee voor dat hulle die egte Joodse godsdiens leef, maar intussen is alles net op voorkoms ingestel. Die uitnodiging is daar vir die kerk om hulself as volgelinge van Jesus te herdefinieer. Om die karakter van diensbaarheid aan te neem. Diensbaarheid wat gesetel is in ‘n gesindheid en bereidheid om die minste te wees. Om jouself klein te maak en sodoende vir God groot te maak. Om weer moue op te rol en hande vuil te maak, broekspyp op te rol en voete vuil te maak en deur ons dade gesag te gee aan ons woorde.

Laai af: WordPowerPoint

Levitikus 19:1-2, 15-18 – 29 Oktober

Twee en Twintigste Sondag in Koninkrykstyd

Daar is ‘n foto van weggegooide gemors wat jy kan wys. Gesels oor wat daar aangaan. Laat families met mekaar gesels.  Laat hulle alles noem wat hulle het, maar nie meer (gereeld) gebruik nie, of alles waarvan hulle te veel het, bv. ou speelgoed, ekstra stelle borde, beddegoed, DVD’s wat hulle nie meer kyk nie, naellak wat ma nie meer gebruik nie, klere wat hulle nie meer dra nie (of wat nie meer pas nie).  Laat hulle kreatief dink wat hulle met hierdie goed kan doen. Kry wenslyste by plaaslike welsynorganisasies (plekke wat haweloses versorg, plekke wat kinders sonder heenkome versorg, inval-plekke vir straatkinders, ens.).  Daag families uit om van hul ekstra besittings vir hierdie organisasies te neem.

In ons teks is die Here self aan die word. Hy gee opdragte aan die volk wat hulle gedrag teen God en medemens bepaal. Hierdie opdragte – om te doen wat God wil – staan op die fondament van wie ons God self is. “‘Julle moet heilig wees, want Ek, die Here julle God, is Heilig”. Ons alledaagse, praktiese optrede moet pas by wie ons God is. Ons leef in God se teenwoordigheid, en die Here leer ons in Levitikus hoe ons as God se volk in sy teenwoordigheid moet lewe.

Laai af: WordPowerPoint