Skrywer: Webmeester

Eksodus 20:1-4, 7-9, 12-20 – 4 Oktober

Agtiende Sondag in Koninkrykstyd

Hier is oulike prentjies waarmee jy die Tien Gebooie grafies kan uitbeeld en vir kinders verduidelik. Daar is groter kleur weergawes en ook kleiner weergawes wat kinders tydens die preek sou kon inkleur. Algoa Gemeenskapskerk het ‘n video wat vir jou verduidelik hoe jy die gebooie met handgebare kan memoriseer – ‘n prettige, deelnemende manier om die Skriflesing te benader! Of loer na hierdie emoji-speletjie, ook van Algoa Gemeenskapskerk. Eksodus 20 staan in die hart van ons verstaan oor wie God is en wie ons is. Hierdie hoofstuk is nie net verre geskiedenis of die notule van ‘n antieke vergadering nie. Mens kan sê dit is ons geskiedenis, die verhaal nooi ons in om te kom deelneem aan hierdie groot moment in God se vorming van God se mense. Ons kan as’t ware in die verhaal inklim as deelnemers. Dit is ons wat daar by Sinaiberg staan en na God se woorde luister. Ons is karakters in die verhaal. Dit is ons wat God in hierdie gebeure beter leer ken. Dit is ons wat beter leer verstaan wie ons is. Dit is nie net God en Moses wat hier in gesprek is nie. Dit is God en elke dissipel van Jesus. Ons leer in hierdie gedeelte: Wie God is,  Hoe God optree, Wie ons is, en Hoe ons geroep is om op te tree.

Laai af: WordPowerPoint

Eksodus 17:1-7 – 27 September

Sewentiende Sondag in Koninkrykstyd

Gebruik meegaande kunswerk as visuele medium en vertel gewoon die storie van Moses wat die rots slaan dramaties vir die kinders. Probeer om by kinders te hoor om emosies raak te sien in die gesigte van die mense rondom Moses- gegewe dat die volk Moses (en God) verwyt het vir hulle situasie in die woestyn. Watter emoji’s pas by die mense? Die preekriglyn val weg met die vraag of die Here by ons is of nie? Miskien het almal van ons al dié vraag in een of ander vorm in ons lewe gevra. Israel vra die vraag omdat alles wat hulle op hierdie moment ervaar, op die teendeel dui: mans, vroue, kinders en diere in die skroeiende woestynson, met geen water in sig nie. Hulle is in dié situasie omdat Moses hulle oortuig het dat Jahwe, die God van Abraham, Isak en Jakob vir hulle omgee en ‘n nuwe toekoms wil bied. Nou begin hulle daaraan twyfel, want nie eers die mees basiese van hulle lewe, water, is beskikbaar nie. Hierdie kort verhaal belig God se leierskap, die aanhoudende menslike gekla, en die onvergelyklike meelewing van God wat die onderhoudende elemente van die skepping vir Israel ontsluit.

Laai af: WordPowerPoint

Eksodus 16:2-15 – 20 September

Sestiende Sondag in Koninkrykstyd

Vertel dalk die breër verhaal van die manna en kwartels. Ons sluit prente in kleur en swart en wit in waarvan kinders hul eie boekie van die verhaal kan maak. Daar is ook skakels na video’s wat jy kan gebruik. Vir die preekriglyn moet jy oorweeg om verse 1 tot 21 as teksgedeelte te hanteer. Ons is tans in koninkrykstyd, dié periode van die kerkjaar waarin ons spesifiek nadink oor:

  • God se heerskappy en heerlikheid, en
  • Ons reaksie as dissipels van Jesus op God se onderhoudende teenwoordigheid in die lewe van God se volk.

Hierdie temas deursuur ons teksgedeelte. Kom ons stap deur ons teks en let op alles wat gebeur. Dit is ’n boodskap wat ons nodig het in die tyd van stroping wat ons tans beleef. Mag ons daarin die aanmoediging hoor om die Here in alles te vertrou.

Laai af: WordPowerPoint

Matteus 18:21-35 – 13 September

Vyftiende Sondag in Koninkrykstyd

Carolyn Brown stel voor dat jy ‘n sak vol munte/ albasters/ voorwerpe aan die eenkant maak, en slegs 1 objek (van dieselfde soort) aan die ander kant. Vertel nou die gelykenis/storie van Jesus. Die 2 persone in die storie se skuld kan vergelyk word met die 2 hoeveelhede wat jy saamgebring het. Die beginsel is dat Jesus ons leer om mense te vergewe wat ons te na kom. Eindig die gesprek met die Onse Vader waar pertinent na die vergewensgesindheid verwys word. ‘n Bekende prediker, Helmut Thielicke, het gesê die gevaarlike van oppervlakkige prediking en moralistiese praatjies oor die geestelike lewe is dat mense sal dink die evangelie wil van redelik ordentlike mense maar net nog ‘n bietjie méér ordentlik maak. Die goeie nuus van die evangelie is baie dieper as dit. Ons moet eerlik wees as ons daarna luister en die boodskap met ‘n oop gemoed ontvang.  Wat sê die gelykenis vir ons? Dat vergewensgesindheid in die aard van God gewortel is. Matteus beskryf verlossing as ‘n daad van genade wat nie op die voorwaarde van goeie werke berus nie. Hierdie verlossing, wanneer dit eg is, produseer medelye en genade. Dit is soos God is: barmhartig. Daarom moet ons ook so wees. Ons moet mekaar van harte vergewe. Die “hart” is daardie plek van waar ons voel en dink en wat ons dade bepaal. Dít is waar diep vergifnis vandaan moet kom, van ‘n plek wat spreek van integriteit, sonder om agter ‘n valse front te skuil en bloot eie belange te dien.

Laai af: WordPowerPoint

Matteus 18:15-20 – 6 September

Veertiende Sondag in Koninkrykstyd

John Stevens by dskidsermons.com sluit aan by Jesus se woorde: “waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle.” Hy praat van die Amerikaanse “smores”. Dit is ‘n tradisionele kampvuur lekkerny. Jy maak ‘n “toebroodjie” van droë beskuitjies, met marshmallows en sjokolade binne-in. Dit word dan warm gemaak, om ‘n “smore” te maak. Stevens sê dat die beskuitjies, marshmallows en sjokolade lekker is, maar wanneer hulle saam is, is hulle beter. Dalk kan ‘n mens aan ‘n plaaslike ekwivalent dink? Stevens stel ook voor dat jy oorpluisies (ear plugs) gebruik – die soort wat klank uit jou ore uithou. As julle persoonlik ontmoet, kan jy vrae vra met pluisies in jou ore. Jy kan hulle nie hoor nie! Liefde is om na mekaar te luister. Carolyn Brown stel voor dat jy Charlotte Zolotow se “The Hating Book” lees. “[It] tells of a little girl whose best friend has suddenly dropped her.  The girl is very angry, but finally at her mother’s repeated urging, she goes to talk with the friend and discovers that there has been a big misunderstanding that is easily reconciled.” Jy kan die hele storie in ongeveer 3 minute lees. Preekriglyn: Konflik in die kerk. Dit klink na ‘n teenstrydigheid. Die kerk is tog ‘n plek waar vrede en harmonie is. Tog is (en was) dit nog nooit die geval nie. Die kerk is ‘n gemeenskap van mense. En mense maak mekaar seer. Indien ons dink daar moet te alle tye net vrede en harmonie in die kerk wees, vee ons maklik konflik onder die mat in. Juis dit benadeel verhoudings en maak dat vrede en harmonie moeilik bereik word. Die konflik waaroor dit in Matteus 18:15-20 gaan, ontstaan wanneer iemand ervaar ‘n medegelowige het iets teen hom of haar verkeerd gedoen. Hierdie persoon word opgeroep om die saak nie onder die mat in te vee nie, maar te gaan praat met die skuldige broer of suster. Indien die skuldige nie wil saamwerk nie, moet daar een of twee lede van die gemeenskap saamgeneem word (vgl Deut 19:15; 2 Kor 13:1; 1 Tim 5:19). As dit nie help nie, moet die saak onder die aandag van die hele gemeenskap gebring word en moet almal — nie net die benadeelde persoon nie — die oortreder “soos ‘n buitestander” hanteer. Maar, Calvyn het oor hierdie gedeelte gesê ons moet baie versigtig te werk gaan. Ons moet onthou waaroor dit gaan …

Laai af: WordPowerPoint

Matteus 16:21-28 – 30 Augustus

Dertiende Sondag in Koninkrykstyd

Lees die fokusteks in die Nuwe Testament vir kinders. Voltooi die sleutelwoorde om die groot geheim van die fokusteks te ontdek wanneer jy glo (vers 25). In ons teks kondig Jesus aan wat vir Hom voorlê in Jerusalem. Daar wag groot lyding, dood en opwekking op die derde dag. Jesus se onthulling dui op die vervulling van die eeue-oue profesie van ‘n Messias wat as ‘n dienskneg kom en wat sou ly (Jesaja 53); asook van die gryse Simeon dat die Christuskind wat hy in sy arms hou bestem is tot die val en opstanding van baie in Israel en ‘n teken wat weerstaan sou word (Lukas 2:34-35). In die lig van hierdie teks is geloof nie maar net om te erken dat God bestaan nie. Geloof is ‘n verbintenis aan Jesus die gekruisigde en opgestane Here. Dit is om af te sien van enige poging om die kruis uit sy sentrale plek te skuif en met iets anders te vervang. Positief is geloof om die gedagtes van Jesus te dink, om aan God se kant van diens en selfprysgawe te wees, om aan Christus se dienswerk deel te neem met elke gedagte en elke daad. Om onder die kruis wat jy opgeneem het te leef, beteken om te groei in Christus se volledige JA aan God se wil en Christus se volledige NEE vir die sonde. Dit is om daagliks op Christus se manier te lewe, deur die lewe te vind deur dit te verloor. Niks, nie eers ons pogings om die wêreld vir God te wen, kan Christus se volgelinge wegtrek van ons verbintenis aan Christus deur die kruis nie. Dit is deur die kruis op te neem, jou lewe te verloor, weg te gee in diens van God en ander, dat mens geskik raak om Christus te dien en in Christus se Naam te bedien. Dit is hoe aktiewe dissipelskap lyk.

Laai af: WordPowerPoint

Psalm 124 – 23 Augustus

Twaalfde Sondag in Koninkrykstyd

Vir Familietyd sluit aan by kinders wat graag voëls in wippe probeer vang. Illustreer so ‘n wip. Verduidelik dan dat vandag se Psalm sê dat God ons bevry soos ‘n voël wat uit ‘n wip kom. Dat ‘n mens soms bang is, maar dat God ons betyds red. Die preekriglyn begin met die besondere geleentheid wat hierdie Psalm gesing is toe ‘n Skots-Presbiteriaanse predikant, John Durie, uitgesproke in sy kritiek op die koning en op prominente kerkleiers, na gevangeneming vrygelaat is. Durie, ‘n aanhanger van die Skotse Kerkhervormer, John Knox, is deur 200 vriende ontmoet en terug in Edinburgh in begelei. Die groep het aangegroei tot ‘n skare van ‘n paar duisend, wat begin het om Psalm 124 te sing: “As die Here ons nie gehelp het nie, dit moet Israel bely, as die Here ons nie gehelp het nie ….” Die vierstemmige sang van die groep was iets besonders. Die groep is self diep ontroer, met toeskouers wat ook meegevoer is. Van een van Durie se hoofvervolgers is gesê dat hy die sang van Psalm 124 by hierdie geleentheid meer gevrees het as enigiets anders wat hy ooit in Skotland aanskou het. Dit is een van die vreugdes van die lees van die Psalms om jou te probeer indink in die omstandighede waarin dit die eerste keer gesing is.  Want dit gee jou ‘n beter idee van hoe dit ook op jou eie lewe van toepassing is. Dit is wat Psalm 124 wil doen: ons in ‘n moeilike tyd opbeur, ons leer om die taal van lof en dank weer te gebruik.

Laai af: WordPowerPoint

Genesis 45:1-15 – 16 Augustus

Elfde Sondag in Koninkrykstyd

Dit gebeur maklik in enige huishouding dat een van die kinders dink dat van die ander voorgetrek word. Gesels met die kinders hieroor en probeer hulle spontane reaksie ontlok. Gebruik hierdie bekende situasie kreatief  om die gemeente deur die kinders se reaksie in die teks in te lei. Mens sou dink Josef was nog kwaad vir sy broers… hulle het hom dan destyds verkoop as ‘n slaaf. En nooit het hulle geweet Josef sou uiteindelik in Egipte by die koning tot groot hoogtes uitstyg nie. In vandag se fokusteks doen Josef die ongelooflike… hy verwyt nie sy broers nie maar omhels hulle. Hy neem nie wraak nie. Mag ek en jy dit ook regkry om so te kan vergewe wanneer ander ons te na kom. Mag ek en jy dit ook regkry om God se werk in ons lewens raak te sien. Die preekriglyn sluit aan by die feit dat die Bybel mense se verhale gebruik om ons oor die lewe te leer en hoe om ‘n pad saam met God te loop. Josef se verhaal in Genesis is een so ‘n verhaal. Om die waarheid te sê, dit is ‘n verhaal met soveel lewenswysheid dat party geleerdes dink dat dit eintlik deel van die Wysheidsliteratuur moet wees. Dit is bedoel om mense oor die lewe te onderrig en te help verstaan wat die sin is van alles wat met hulle gebeur. Josef se lewe het diep donker tye gehad. In ‘n put, versaak deur sy broers. As ‘n slaaf, wat onregverdig in die tronk gegooi word. Wat ‘n pad saam met God stap, maar twee jaar lank vergeet die skinker wat hy met God se hulp gehelp het hom. In Egipte, ná die vet jare, kom die droogte. En tog, wanneer Josef sy verhaal aan sy broers vertel, vertel hy dit as ‘n verhaal van oorwinning en vergifnis. Al die ellendes wat hy in sy lewe ondervind het, sien hy as die verskillende paaie wat hy saam met God gestap het op pad iewers heen, op pad na sy lewensdoel om lewens te red. God het ‘n pad en ‘n plan met Josef. Deur God se pad te onderskei en daarby aan te sluit, herskryf Josef telkens sy lewe – op die manier waarna hy op sy lewe terugkyk en die sin daarin raaksien. Dit is ‘n belangrike les om by Josef te leer … om terug te kyk op ons lewe en nie die slegte raak te sien nie. Om te besef dat die ellendes wat ons oorgekom het, deel was van ‘n pad waarop ons kon groei. Deur ellendes en swaarkry, is ons saam met God op pad. Eintlik sou ‘n mens dit só kon stel: Ons mag nie terugkyk op ons lewe en net die mislukkings en terugslae raaksien nie. As ons met God op pad is, is ons nie vasgevang in ons swaarkry nie. Ons is op pad. Nooit bly ons vasgevang nie. Want God is dáár, en God stap saam. Ons kan selfs die pyn wat ander mense ons aangedoen het oorkom en dit deel van ons en God se suksesverhaal maak. God beoordeel ons nie op die swakplekke van ons lewe nie. Daarom mag ons dit ook nie doen nie.

Laai af: WordPowerPoint

Genesis 37:1-4, 12-28 – 9 Augustus

Tiende Sondag in Koninkrykstyd

Soos met alle verhalende tekste in die Bybel, kan jy gewoon die verhaal van Josef vertel. Carolyn Brown gee uitstekende voorstelle vir hierdie teks. So noem sy dat kinders baie van hierdie verhaal hou, omdat hulle goed kan identifiseer met moeilike broers en susters. Sy gee ook voorstelle vir hoe om die verhaal te vertel, plus ‘n skakel na ‘n “draaiboek” om dit verhaal lekker te lees. Daar is voorstelle vir ‘n video, liedjies, mense kan fancy jasse dra, asook ‘n manier om mense te begelei om oor woede te bid. Daar is ook ‘n skakel na ‘n oulike video en inkleurprent te gebruik. Onthou ook die Bible App For Kids.  Dit vertel die storie op ‘n interaktiewe manier. Ons teks handel oor Josef, die dromer en witbroodjie van sy pa, wat ‘n slaaf in Egipte word. Die feit dat hy slegte stories oor sy broers by sy pa aandra, is die enigste negatiewe ding wat in die hele verhaal oor hom persoonlik vertel word. Dit is soos die verhaal begin, maar deur sy swaarkry verander Josef. In elke ander situasie tree hy met groot oorleg en wysheid op, selfs in die toetsing waaraan hy sy broers in Egipte later in die verhaal onderwerp. God is aanwesig in sy swaarkry en God vorm hom deur die swaarkry. Josef groei na wysheid. Die man met die gawe van drome word ‘n droomuitlegger waardeur hy die guns van die Farao wen en betyds beplan kan word om ‘n groot ellende af te weer. Ook deur ‘n ydel sewentienjarige is God besig om vir God se mense te sorg.

Laai af: WordPowerPoint

Genesis 32:22-31 – 2 Augustus

Negende Sondag in Koninkrykstyd

Gebruik die verhaal uit Philip de Vos se boek “Wolfgang Amadeus Muis” om te illustreer hoe God in die doop vir ons ’n nuwe naam gee. Kortweg gaan dit oor die Mamma Muis wat nie kon besluit wat sy haar jongste muisbaba moes noem nie, sy het ’n spesiale naam vir hom gesoek, want sy het geweet hy is bestem vir groot dinge en toe hoor sy oor die radio die naam Wolfgang Amadeus en besluit daar en dan om hom so te noem. En dit is wat God met ons doen – Hy gee ons ’n spesiale naam, want vir Hom is ons spesiaal. As oupa se tande dan eendag daar tussen die muise beland en Wolfgang Amadeus met ’n spyker daarteen slaan en dit maak musiek raak hy bekend as die musikaalste muis ooit en doen sy naam gestand. In vandag se fokusteks het God Jakob se naam verander omdat Hy nuwe planne met Jakob gehad het. Die boodskap van dié verhaal op verskeie vlakke: In die eerste plek bemoedig die verhaal ons met die perspektief dat ons nie hoef staat te maak op ons eie vermoëns nie. God se teenwoordigheid met alles wat Hy tot sy beskikking het, is ook aan ons belowe. In die tweede plek bemoedig die verhaal ons met die perspektief dat in ons worstelstryd met God se wil vir ons lewe, ons op sy uiteindelike seën kan staatmaak. Dit is so dat die verhaal ‘n mens diep laat nadink oor jou persoonlike ambisie en die drang tot selfverwesenliking en waar die grense lê tussen mens en mens en tussen mens en God. Maar die evangelie van Jakob se transformasie van bedrieër na begenadigde is dat God ons nie kies vir wie en wat ons is nie, maar vir wie en wat Hý van ons kan maak. Op ‘n derde vlak kan ons kennis neem van die parallelle wat daar tussen ons ervaring en Jakob s’n is. Calvyn het in sy kommentaar op Genesis ons versoekings met die worsteling van Jakob verbind. Versoekings, sê Calvyn, is nie net ‘n worsteling met jou eie begeertes en behoeftes en die verleiding van die wêreld nie, maar baie keer ‘n worsteling met God self en sy wil vir jou lewe. In ‘n sekere sin, sê Calvyn, veg God téén ons en vír ons. Hy maak ons sterker in dié ervarings wat voel asof God téén ons is, deurdat dit juis Hy is wat ons die krag gee om te kan oorwin: “For we do not fight against him, except by his own power, and with his own weapons; for he, having challenged us to this contest, at the same time furnishes us with means of resistance, so that he both fights against us and for us … in as much as he supplies us with more strength to resist than he employs in opposing us, we may truly and properly say, that he fights against us with his left hand, and for us with his right hand. For while he lightly opposes us, he supplies invincible strength whereby we overcome.” (John Calvin’s Commentaries on Genesis 24-50).

Laai af: WordPowerPoint