2 Tessalonisense 2:1-17 – 10 November

Twee en Twintigste Sondag in Koninkrykstyd

Carolyn Brown sê dat kinders vandag moet hoor dat hulle nie bekommerd moet wees oor wat met hulle gaan gebeur wanneer hulle doodgaan nie.  Of oor wat met hulle gaan gebeur wanneer hulle groot is of tieners word nie.  Of… of….  Hulle moet eerder dink aan vandag.  Hulle moet vandag as God se kind leef.  Sy wys ook daarop dat dit nie vir kinders moeilik is nie, aangesien hulle geneig is om juis eerder in die hede te leef. Sluit daarom by maniere aan waarop kinders versoek word om nie in die hede te leef nie.  Die preekriglyn sluit by die werklikheid aan dat die gemeente in Tessalonika Paulus verkeerd verstaan het.  Sy boodskap in sy eerste brief dat Jesus onverwags sou kom, is deur hulle geïnterpreteer dat Jesus moontlik reeds gekom het óf binnekort sou kom.  Paulus versoek hulle egter om nie so gou van stryk gebring te word deur misleidende interpretasies oor die wederkoms nie, maak nie saak of dit in ‘n profetiese uitspraak gedoen word of deur ‘n brief nie.  Die wettelose mens (Antichris?) waarvan Paulus praat wat eers moet verskyn, kan óf met ‘n demoniese mag óf ‘n despotiese leier verbind word. Oor die presiese betekenis is ons egter onseker. Hoe dit ook al sy, die Tessalonisense het die lering verstaan, want hy het dit blykbaar die vorige keer met hulle deurgepraat. Wat wel ook vir ons seker is, is dat dit die Satan is wat agter die wettelose en die wetteloosheid sit.  Let egter op dat hy dit net regkry om dié te mislei wat reeds nie die waarheid liefgehad en tot hulle redding aanvaar het nie.  Die veroordeling kom dus nadat hulle reeds hulle keuse teen God se boodskap in Jesus Christus gemaak en Hom verwerp het. Die preekriglyn brei dan uit oor die Satan se werk: versoeking (Matt 4), misleiding (1 Kon 22:21-22; Ef 6), teenspoed (Open 2:10) en aanklag (Job 1; Open 12:10).  En oor die feit dat sy werk daarom ook nie uitgewis word deur “duiwel-uitdrywing” in die eerste plek nie, maar deur die waarheid te soek en uit te leef, sowel as om te bid en te getuig. Dit is hoe God ons standvastig maak en gebruik in hierdie wêreld.

Laai af: WordPowerPoint

Comments (4)

  • Wesley Lamprecht

    Baie dankie vir hierdie voortgesette diens, wat die lewe vir leraars en leke baie makliker maak.

    Doen so voort

  • aan die webmeester……ek is verantwoordelik vir begeleiding in ons gemeente. Ek benodig die laaste paar dienste, tot met aanvang van advent, se liturgië. Ek het vantevore d m v Seisoene van luister reggekom ,maar nou bestaan dit nie meer nie. Kan u my asb help?

    Ek praat reeds met Bybelmedia , om die nuwe leesrooster aan te koop, maar ek sal dit nie graag in boekvorm wil ontvang nie, eerder n weergawe vir die rekenaar. Ons bly te afgesonder en ver van beskawing…posstukke is n probleem.

    • Hi Ilse. Jy kan die liturgieë aflei by preekriglyne. Dit is aan die onderkant van elke inskrywing. Ek laai hierdie week die volgende lêers vir 17 November en sal die res tot die einde van die kerkjaar ook laai. Die nuwe kerkjaar sal hopelik betyds kom vir Advent. Ek wag self vir die nuwe kopie om daarmee te begin werk.

Laat 'n boodskap na ilse brand Kanselleer die opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui