1 Petrus 1:3-9 – 19 April

Tweede Sondag in Paastyd

Gesels met die kinders oor wat vleis die beste sal bewaar? Teen kamertemperatuur in ’n plastieksakkie? Lekker koud in ’n yskas? Kliphard gevries in ’n vrieskas? In ’n botteltjie met formalien? (Verduidelik dalk net die aard van formalien…) Wat dink julle sal die toestand van die vleis oor ’n week wees? Dié teen kamertemperatuur in die plastiese sakkie sal sleg raak en jy sal dit moet weggooi. Die een wat lekker koud is in die yskas sal dalk ’n week hou, maar dit sal na ’n maand sleg wees en sal ook weggegooi moet word. Die gevriesde vleis in die vrieskas sal eers na ’n paar maande, dalk selfs jare sleg wees, sodat jy dit moet weggooi. Dié in die formalien sal vir ewig bewaar bly. Gesels dan oor die beperktheid van ons lewens. En die formalien-opsie wat met Jesus se opstanding uit die dood te doene het. Die enigste ding wat iets vir altyd laat hou, wat ons help om vir ewig te lewe is, is die opstanding van Jesus wat vir ons die ewige lewe verseker. As ons glo, het ons die krag van God wat ons hoop gee en ons voluit laat lewe. Ons teks is ‘n wonderlike lofbetuiging aan God en God se groot genade. Petrus fokus in ons teks op die ewige erfenis wat in die hemel vir ons in bewaring gehou word. Die opstanding van Jesus Christus uit die dood is die basis van ons hoop – ‘n lewende hoop – dat ons dié erfenis aan die einde in besit sal neem. Petrus herinner die gelowiges daaraan dat hierdie verlossing iets is waaroor baie lankal nagedink en navraag gedoen is, sedert die tyd van die profete.  Selfs die engele, sê hy, wonder oor presies hoe dit werk. Ons het egter nou die voorreg om nie net van ons deelname aan die verlossing oortuig te word nie, maar inderdaad mee te werk daaraan deur ons verbintenis aan God.

Laai af: WordPowerPoint

Comments (2)

  • Wesley Lamprecht

    Ek is nie so seker dat die formalien-beeld heeltemal in die kol is nie. Dit “bewaar” die vleis maar maak dit ook heeltemal onbruikbaar vir enigiets anders as om uitgestal te word.

    • Jy is reg, Wesley. Dit is die probleem van voorbeelde. Dit werk tot op ‘n punt en dan kelder dit jou maklik. ‘n Mens moet waarskynlik eerder met die begrip van ‘n nuwe liggaam werk wat die probleem van bewaring “side-step”. Laat weet ons wat jy toe uiteindelik gebruik het!

Laat 'n boodskap na Webmeester Kanselleer die opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui